‘n VF Plus-mosie wat eis dat die huidige verordening oor elektrisiteitsvoorsiening gewysig word sodat kragdiewe strenger beboet word, is deur die raad van die Mbombela-plaaslike munisipaliteit aanvaar.
Die vorige verordening se boete was ‘n skrale R500. Die VF Plus vra nou ‘n voorgestelde boete van R5 000 per huishoudelike oortreder en R20 000 vir ‘n soortgelyke tweede oortreding. Daar word verder versoek dat sakeondernemings met R10 000 vir ‘n eerste oortreding en tot en met R30 000 vir ‘n tweede oortreding beboet word.
Die munisipaliteit, wat Mbombela/Nelspruit, Barberton, Hazyview, Kaapsehoop, Skukuza en Witrivier bedien, skuld Eskom tans sowat R1,4 miljard. Eskom se besluit om slegs die minimum-hoeveelheid krag te verskaf aan munisipaliteite wat agterstallige rekeninge het, straf inwoners wat hul rekeninge getrou betaal onregverdig deur nie strenger teenoor kragdiewe op te tree nie.
Hoewel bogenoemde skuld nie alleenlik weens kragdiefstal is nie, speel dit ʼn groot rol.
In ʼn vorderingsverslag aangaande ʼn plaaslike kragmeteroudit wat in Mei aan die raad voorgelê is, is bevind dat sowat 1 200 boetes uitgereik is aan inwoners wat met kragmeters gepeuter het. Die oudit is nog nie afgehandel nie.
Hierdie bevindinge wek ernstige kommer. Tot op hede het die munisipaliteit niks gedoen om die boetes in die verordeninge te verhoog wat kragdiewe sal afskrik nie.
Dié artikel 8-boetes tref geen onderskeid tussen woonhuise en geregistreerde sakeondernemings waar met kraginfrastruktuur gepeuter word nie.
Sakeondernemings wat met kragmeters peuter om minder vir krag te betaal, moet aan strenger boetes of ʼn langer tronkstraf blootgestel word.
Bogenoemde mosie sal nou deur ‘n openbare deelnameproses gaan voordat dit goedgekeur word.
Die VF Plus sal aanhou druk plaas op die Mbombela-munisipaliteit totdat die noodsaaklike stelsels in plek is om kragdiefstal en die gepeuter aan kragmeters heeltemal uit te skakel.