Die VF Plus het in ’n dringende skrywe aan die Limpopo-premier, mnr. Stan Mathabatha, asook die LUR vir samewerkende regering (Cogta), mnr. Basikopo Makamu, daarop aangedring dat Ellisras en omliggende dele (Steenbokpan, Overysel, Beauty, Onverwacht) tot rampgebied verklaar word.
Duisende hektaar is sedert 25 September weens wegholveldbrande verwoes.
Natuurreservate en plase in die Lephalale-plaaslike munisipaliteit (Ellisras) het skade van miljoene rande gely weens die brande.
Op Steenbokpan is sowat 25 000 hektaar in puin gelê.
Volgens die plaaslike VF Plus-raadslid, Hendrik Venter, wat die geraakte boeregemeenskap sedertdien besoek het, is daar ’n grootskaalse verlies aan weiding, waterpype, wild en vee.
Die Rampbestuurswet gee aan die premier die bevoegdheid om ʼn provinsie tot rampgebied te verklaar sodat provinsiale hulpbronne beskikbaar gestel kan word om diegene wat geraak is, by te staan.
Die provinsiale regering moet homself verbind tot sy plig en verantwoordelikheid teenoor die welstand van sy inwoners en gemeenskappe wat nou regeringshulp nodig het.


