Die VF Plus is bekommerd oor die toestand van 21 biblioteke in die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Magaliesburg, Muldersdrift) wat ʼn gevaar inhou vir die publiek.
Die party het tydens ʼn vergadering van die plaaslike portefeuljekomitee vir sport, kuns en ontspanning gevra waarom hierdie biblioteke nog enigsins oop is vir die publiek synde dit ʼn wesenlike bedreiging vir hul veiligheid inhou.
Die party wou ook weet of die kontrakteurs wat verantwoordelik is vir die herstel van die biblioteke aanspreeklik gehou gaan word vir die nienakoming van hul kontrakte.
Drie van die biblioteke, Kagiso, Joe Slovo en Rietvallei, se deure is gesluit vir die publiek.
Van die biblioteke wat nog oop is, se grootste probleme is stukkende dakpanele, plafonne wat uitval, geen behoorlike omheinings nie, stukkende ligskakelaars en ander kragprobleme, stukkende lugversorgers, gesteelde rekenaars en gebarste geisers.
Riool vloei voor die Hekpoort-biblioteek se ingang verby, verskeie ligte werk nie binne of buite nie, die dak lek en daar is oop kragkabels binne die gebou.
Die oprigting van ʼn biblioteek in Kagiso-uitbreiding 6 het in 2016 teen ʼn bedrag van R341 miljoen begin, maar is steeds onvoltooid. Slegs die mure is gebou sonder ʼn dak, vensters of elektriese bedrading.
Mogale City moes noodgedwonge die projek aan die Gautengse regering oordra.
Die Joe Slovo-mobiele biblioteek is gesluit weens ʼn geskil tussen Mogale City en die grondeienaar. Daar is sprake dat dié biblioteek na Lanseria geskuif sal word.
Die mobiele biblioteek in uitbreiding 1, Kagiso, moes op 30 Junie na ʼn ander perseel geskuif word, maar dit het tot op hede nie gebeur nie.
Gemeenskappe het die reg tot openbare biblioteke en veral die jeug het ʼn behoefte om inligting vir skooltake te bekom. Niemand mag egter aan ʼn onveilige omgewing blootgestel word nie.
Die VF Plus sal druk op Mogale City plaas om die herstelwerk by al die biblioteke so gou moontlik af te handel.