ʼn Gestremde VF Plus-raadslid in die Rand West City-plaaslike munisipaliteit (Randfontein, Westonaria) sukkel om raadsvergaderings by te woon weens die hysbak wat al vir bykans ʼn jaar buite werking is.
Charles Brough, wat van ʼn rolstoel afhanklik is, moet elke keer wanneer hy ʼn raads- of komiteevergadering moet bywoon, mederaadslede vra om hom met die trappe na die eerste vloer te dra. In baie gevalle is daar niemand om hom te help nie.
Ná vergaderings verdwyn raadslede gewoonlik vinnig en moet Brough en sy helper self sukkel om met die trappe af te gaan.
Die op- en afdra van Brough kan lei tot ernstige beserings vir homself en ander.
Die speaker van die munisipaliteit, Dumile Sithole, is vroeër vanjaar ingelig oor die situasie en het op 27 Julie skriftelik onderneem om die hysbak te laat herstel.
Die VF Plus het ook die Gautengse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Mbali Hlophe en die departement van arbeid van die situasie in kennis gestel.
Die wyse waarop die ANC-beheerde raad gestremdes se behoeftes minag en hul toegang tot openbare geboue beperk, is nie net strydig met die regte van gestremde persone nie, maar is ook ʼn aantasting van hul menswaardigheid.
Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen op die speaker en die onderskeie departemente om die saak te ondersoek en ʼn oplossing te vind.


