Die VF Plus se raadslede in die Frances Baard-distriksmunisipaliteit het vandag die minister van staatsdiens en administrasie, me. Noxolo Kiviet, vergesel met haar besoek aan die watersuiweringsaanleg van Warrenton in die Magareng-plaaslike munisipaliteit.
Sedert ʼn vloed in Februarie 2023 die pyp van die suiweringsaanleg na die dorp meegesleur het, is inwoners van Warrenton sonder water.
Alhoewel herstelwerk hieraan ʼn maand gelede voltooi is, is groot dele van die dorp steeds sonder water weens swak onderhoud aan die verouderde verspreidingsnetwerk. Dit het ook waterlekkasies tot gevolg.
Die waarnemende munisipale bestuurder van Magareng, mnr. Tumelo Thage, het aan die minister verklaar dat daar tans geen watertekorte in die dorp is nie.
Die VF Plus se takvoorsitter op Warrenton, me. Sonet Bryant, het dit met bewyse weerspreek.
Thage het voorts gesê dat die suiweringsaanleg teen sowat R82 miljoen opgegradeer word. Werk het in 2020 begin en behoort teen Maart 2024 voltooi te wees, na aanvanklike vertragings met die kontrakteurs.
Na voltooiing van hierdie projek behoort die aanleg se suiweringsvermoë 19 kiloliter te wees, met ʼn bergingskapasiteit van 5 kiloliter.
Hierdie opgradering sal wel voldoende wees om die hele Magareng van water te voorsien, mits die infrastruktuur herstel en in stand gehou word.
Die VF Plus doen ʼn beroep op die nasionale regering om toe te sien dat die inwoners se grondwetlike reg tot water beskerm word. Die party sal hierdie projek fyn dophou om te verseker dat die inwoners se krisis opgelos word.
Die ANC is verantwoordelik vir die onvolhoubaarheid wat tans heers. Dis tyd dat die ANC se mag gebreek word.