Die VF Plus verwelkom die aankondiging van die verkiesingsdatum van 29 Mei vanjaar.
Dit bring meer sekerheid vir politieke partye om met volle stoom met hul beplanning vir die verkiesing te begin en om hul verkiesingsveldtogte te begin voer.
Dit bring ook sekerheid vir die kiesers wat onder meer hul reisplanne aanbetref. Noudat hulle weet 29 Mei is die verkiesingsdatum, moet hulle in gedagte hou dat hulle slegs kan stem by die stempunt waar hulle geregistreer is.
Ek doen ‘n beroep op kiesers wat dalk gaan verhuis om steeds die nodige reëlings te tref om te stem. Hulle kan steeds aanlyn registreer om te stem by die adres waar hulle op die 29ste gaan wees.
Registrasie kan geskied tot en met die verkiesingsproklamasie. Hierdie datum is nog nie bekend nie, maar dit kan moontlik reeds teen die einde van hierdie week of in aanstaande week wees.
Die registrasie van ‘n adres vanwaar gestem gaan word, moet daarom sonder meer gedoen word.
Dié sekerheid sal daartoe aanleiding gee dat die momentum sal begin opbou onder politieke partye, organisasies en die publiek oor die verkiesing wat allerbelangrik is vir die toekoms van Suid-Afrika.