fbpx
Vryheidsfront Plus

Begroting 2024: Geen hoop dat sinvolle voorstelle sal realiseer onder die ANC

Die ANC-regering is só onbevoeg dat dit waarskynlik wensdenkery sou wees om ‘n sinvolle vooruitskouing te gee oor die verwagtinge vir môre se begrotingsrede van min. Enoch Godongwana.

Daarby raak haalbare oplossings en voorstelle al hoe moeiliker uitvoerbaar weens die land se haglike fiskale situasie, die knellende strik van staatskuld en ‘n regering wat oor dertig jaar finaal bewys het hy het nie die vermoë of die wil om die ekonomie te laat groei nie.

Nogtans sou die VF Plus wil sien dat belastings nie verhoog word nie, maar eerder oor die volle spektrum verlaag word om die ekonomie ‘n broodnodige inspuiting te gee.

Besteding op infrastruktuur moet prioriteit geniet. Daadwerklike planne moet aangekondig word oor hoe die privaat sektor betrek kan word met beleggings in infrastruktuurprojekte waar die staat nie die geld of die vermoë het om infrastruktuur self te ontwikkel of op te gradeer nie.

Strukturele hervormings is nodig om institusionele struikelblokke in die pad van ekonomiese groei uit die weg te ruim. ‘n Voorbeeld hiervan is beperkinge wat op die privaat sektor geplaas is om werk te skep en by te dra tot ekonomiese groei.

Met president Cyril Ramaphosa wat sê hy soek net ‘n pen om die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) af te teken, raak dit allerbelangrik om Suid-Afrikaners in te lig waar die geld hiervoor vandaan gaan kom.

Gewone Suid-Afrikaners mag nie verder hierdeur belas word tot op die punt van verarming nie. Daar blyk egter nie veel opsies te wees nie. Die geld kan net kom van òf ‘n vorm van belasting òf om te leen. Beide is ewe gevaarlik en skadelik.

Die VF Plus wil veral nie hoor van verdere reddingsboeie aan gefaalde staatsondernemings nie. Hierdie kraantjie wat onbevoegdheid en korrupsie voed, moet nou finaal toegedraai word.

Die enigste flonkering op die donker ANC-geskepte fiskale firmament is die verkiesing oor ‘n paar maande. Dan kan gewone Suid-Afrikaners weer met realistiese verwagtinge begin droom, bou en hoop.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.