Die VF Plus verwelkom die proaktiewe optrede van die Tshwane-metropolisie (TMPD) om die verkeerschaos in Pretoria se middestad aan te spreek.
Die TMPD het in Julie sowat eenduisend voertuie wat onwettig geparkeer was, weggesleep en geskut.
Benewens ʼn boete word bykomende bergingsfooie gehef indien eienaars nie onmiddellik hul voertuie opeis nie.
Die party is bewus daarvan dat parkering ʼn kopsorg in die middestad is, maar maan motoriste om nie in laaisones, busbane en geen-parkeergebiede, soos voor brandkrane, te parkeer nie.
Die VF Plus-raadslid Grandi Theunissen is die burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid. In sy termyn was daar ook reeds ʼn merkbare afname in klagtes oor die gedrag van TMPD-amptenare by die voertuigskut.
Hierdie vermindering in griewe weerspieël die positiewe impak wat Theunissen van die begin van sy termyn geplaas het op die aanspreeklikheid, deursigtigheid en professionaliteit van die TMPD.
Motoriste moet daarop let dat betalings om geskutte voertuie terug te kry, slegs gedoen kan word by die TMPD-kantore in Francis Baardstraat 11, Pretoria-Sentraal.
Dié bewys van betaling moet by die voertuigskut in Madibastraat 1, Pretoria-Sentraal getoon word voor ʼn voertuig terugbesorg sal word.
Die VF Plus doen ʼn beroep op die TMPD om sy aksies in die Pretoriase middestad nie net te beperk tot onwettige geparkeerde voertuie nie, maar om met dieselfde beslistheid op te tree teen alle padgebruikers wat nie verkeersreëls gehoorsaam nie.