Die brand by die Luipaardsvlei-stortingsterrein in Krugersdorp wat nou al vir weke woed, hou ernstige gesondheidsrisiko’s in vir inwoners van die Mogale City-plaaslike munisipaliteit.
Dit is die vierde brand wat by dié stortingsterrein uitbreek sedert Januarie vanjaar.
Die VF Plus ontvang daagliks klagtes van inwoners oor asemhaling- en sinusprobleme, moegheid, branderige oë en hoofpyn – vermoedelik weens die brandende stortingsterrein.
Die party het reeds verskeie briewe aan Mogale City geskryf om die dringendheid van die saak onder sy aandag te bring, maar geen werkbare oplossing is voorgestel nie.
Die VF Plus het daarom gister ʼn klag by die menseregtekommissie (MRK) ingedien om die situasie te ondersoek.
Luidens artikel 24 van die Handves van Regte het elkeen die reg op ʼn omgewing wat nie skadelik vir hul gesondheid en welsyn is nie.
Tans is dit nie die geval in Krugersdorp nie.
Die brande laat onder meer gifgasse soos metaan, koolstofdioksied en waterstofsulfaat in die lug vry wat daagliks soos ʼn swaar kombers oor Krugersdorp hang.
Benewens die gifgasse is daar ook spore van benseen, tolueen en etielbenseen in die lug. Die gifgasse laat ook ʼn slegte reuk vry.
Die voortslepende brande kan toegeskryf word aan die munisipaliteit wat nie die regte toerusting het om die stortingsterrein te bestuur nie.
Die gestorte materiaal moet eweredig oor die terrein versprei word en behoorlik gekompakteer word. So word daar van ʼn groot hoeveelheid suurstof ontslae geraak. Tans vorm die ontbinde materiaal gifgasse en genereer hitte wanneer dit met suurstof in aanraking kom wat ʼn brand kan veroorsaak.
Die brande kan moontlik ook deur plakkers begin word wat by die stortingsterrein woon.
Die VF Plus sal verdere druk op die munisipaliteit plaas om die probleem op te los en sal hom ook tot die Gauteng-provinsie wend om die probleem aan te spreek.