Die tema van vanjaar se Internasionale Moedertaaldag waar die klem op moedertaalonderrig geplaas word, wys hoe ver Suid-Afrika die pad byster geraak het in dié verband.
Die staat het die omgewing geskep waarin die sosiale konstruk rondom moedertaal sodanig ontrafel het dat selfs jong universiteitstudente glo dit het nie meer ‘n plek in die land se onderrigstelsel nie.
Wat die afgelope jare by die Universiteit van Stellenbosch gebeur, dien as bewys hiervan.
Die tema van 2023 se Moedertaaldag is: “Meertalige onderwys – ’n noodsaaklikheid om onderwys te transformeer”.
Dit strook met aanbevelings wat tydens die Verenigde Nasies (VN) se beraad oor onderwystransformering gemaak is waar die klem ook op inheemse mense se onderwys en tale geplaas is.
Hiervolgens vergemaklik meertalige onderwys gegrond op moedertaal, toegang tot, en insluiting in onderrig vir bevolkingsgroepe wat nie-dominante tale, tale van minderheidsgroepe en inheemse tale praat.
Dit is asof hierdie tema geskep is met Suid-Afrika in gedagte. Daar is sekerlik min plekke ter wêreld waar dit meer van toepassing kan wees as Suid-Afrika met sy elf amptelike tale en magdom dialekte waarmee elke spreker in sy streek tuis en vaardig is.
In Suid-Afrika het egter die teenoorgestelde gebeur oor drie dekades onder ANC-beheer.
‘n Koloniale taal is ironies genoeg verhef tot formele gebruikerstaal en die erkenning van die land se elf amptelike tale was en is bloot ‘n niksseggende gebaar.
Wanneer die punt bereik word waar jong universiteitstudente glo hul medestudente het nie die reg om hul eie taal te praat nie, nie eens in privaat gesprekke in hul eie kamers nie, is dit duidelik dat die idee van moedertaalgebruik in Suid-Afrika totaal vernietig is.
Dit strook duidelik nie met die ideale en voorskrifte van die internasionale gemeenskap en die VN nie.
Dit is daarom van die allergrootste belang dat Suid-Afrika se menseregtekommissie (MRK), wat met die mag en bevoegdheid hieroor beklee is, sonder meer uitspraak gee oor die kwessie van moedertaal.
Wat by die US gebeur kan as voorbeeld gebruik word. Aan die begin van 2021 is Afrikaanse studente by die US verbied om Afrikaans te praat.
Die VF Plus en van die studente self het klagte by die MRK ingedien. ‘n Ondersoek is gedoen en in Oktober 2022 afgehandel.
Dit sloer egter omdat “alle belanghebbendes” nog nie kommentaar op die MRK se bevindinge gelewer het nie.
Vir die VF Plus is hierdie onnodige tydmors onaanvaarbaar. Dit laat ‘n toksiese situasie op die universiteit toe om verder te gis terwyl dit onomkeerbare skade in die menseverhouding tussen studente berokken.
Moedertaal is vir alle sprekers daarvan van die grootste belang. Dit is deel van hul menswees. Net so vir die Afrikaanssprekendes.
Die monument op die berg agter die Paarl is bewys daarvan.