fbpx
Vryheidsfront Plus

Begroting moet energiekrisis se skade teëwerk deur belastingkortings

Suid-Afrika se begroting-2023 moet nie net Eskom se finansiële posisie en skuld aanspreek nie, maar moet ’n holistiese raamwerk en stelsels in plek stel om beurtkrag se skade teë te werk.

Die fiskale raamwerk wat deel van die begroting vorm moet deur belasting-toegewings verligting bring aan sake-ondernemings en huishoudings om te oorleef en die ekonomie te stimuleer.

Alhoewel die begrotingstekort al hoe groter word, is dit belangrik om steeds die ekonomie te laat groei en werk te skep. Dit sal die belastingbasis vergroot en die land se fiskale posisie verbeter.

Belastingverhogings sal kortsigtig en uiters teenproduktief wees en ekonomiese groei teëwerk.

Daar moet werklike insentiewe en belastingkortings aan huishoudings wees om die publiek in staat te stel om na hernubare energiebronne oor te skakel.

Dit sal enersyds hul afhanklikheid van die Eskom-netwerk verminder, bydra tot die nasionale kragpoel en terselfdertyd groen kragopwekking bevorder.

Ander lande soos Viëtnam en Indië het groot sukses behaal deur die nodige insentiewe aan die publiek te bied om oor te skakel na veral sonkrag.

Die Inkomstebelastingwet maak wel voorsiening vir aftrekkings vir ondernemings wat hernubare energiebates kan afskryf teen belasting.

Dit is egter beperk tot handeldrywende ondernemings en moet uitgebrei word na alle huishoudings met die nodige belastingkortings vir die koste daaraan verbonde.

Buiten die kragkrisis, is die staat se salarisrekening ook ’n wesenlike probleem. Die staat is te groot en te duur om te bekostig. Dit is buite beheer en onvolhoubaar.

Verlede jaar se voorsiening vir verhogings in die mediumtermyn-begroting is onrealisties en die druk van vakbonde neem toe terwyl die staat se beursie leeg is.

Hierdie probleem word jaar na jaar uitgewys en die tyd het aangebreek dat ’n volhoubare oplossing gevind word.

Die regering doen egter die teenoorgestelde soos onlangs gebeur het met die skep van ’n nuwe ministerspos vir elektrisiteit.

Die begroting moet realisties wees en nie die knellende uitgawes onderskat of misken nie. Dit het verlede jaar gebeur en vererger bloot die krisis aangesien dié uitgawes nie weggewens kan word nie.

Luukshede moet totaal uit die begroting gesny word. Departemente kan nie meer geld kry om te mors nie. Elke sent moet aangewend word om die ekonomie te stimuleer, ondernemings te laat groei en werk te skep.

Besteding aan basiese dienslewering en infrastruktuur is deel van die onvermydelike uitgawes en dien as basis vir ekonomiese groei.

Die lank beloofde strukturele hervorming aan beleid en die uitskakeling van administratiewe rompslomp moet nou realiseer om ’n gesonde sake-omgewing te skep.

Deurlopende reddingsboeie vir staatsondernemings het ’n swaar juk aan die nek van belastingbetalers geraak. Ook hier bestaan die luuksheid van verdere redding vir onbeholpe, korrupte ondernemings nie meer nie.

Die meeste van hulle is niks anders nie as gefaalde ANC-ideologiese projekte en ’n bron vir kaderverryking. Baie het nie meer bestaansreg nie en moet afgeskaf of ten minste geprivatiseer word.

Daar moet lig gewerp word op die situasie by die SAL. Dit is onduidelik wat die staat se betrokkenheid daar is en wat die verkoop van die meerderheidsaandeel behels.

Daar kan gewis nie nog ’n reddingsboei uitgegooi word in dié bodemlose put nie. Dit gaan nie ’n enkele jota of tittel bydra aan die opbou van die land se ekonomie nie.

Belastinggeld moet tot voordeel van belastingbetalers en ekonomiese groei aangewend word, nie ter bevordering van ANC-ideologie of kaderverryking nie.

Minister Enoch Godongwana moet die realiteit van die land se benarde situasie in ag neem saam met die realistiese moontlikheid dat dit moontlik die voorlaaste begrotingsrede is wat ’n ANC-minister in Suid-Afrika gaan lewer.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.