Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Talle ANC-parlementslede sê nee vir Zuma

‘n Beduidende hoeveelheid ANC-parlementlede was vandag bereid om teen hulle president te stem. Dit is ‘n duidelike bevestiging van die ernstige verdeeldheid binne die ANC en is beslis die begin van verdere verbrokkeling en faksievorming binne die ANC, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Van die ANC se 249 parlementslede was net 198 bereid om die president te steun. Dit beteken dat tussen 30 en 40 ANC-parlementslede bereid was om saam met die opposisie te stem.

Dr. Groenewald sê die uitslag maak dit duidelik dat Suid-Afrika ‘n nuwe politieke rigting begin inslaan wat ware hoop gee dat die ANC wel in 2019 deur ‘n koalisie van opposisiepartye by die stembus verslaan kan word.

Dr. Groenewald het in sy toespraak voor die stemming aan ANC-parlementslede gesê as hulle nie help om van pres. Zuma ontslae te raak nie, sal hulle ‘n sterk boodskap na die mense van die land stuur dat die probleem nie net die president is nie, maar die ANC-regering self.

Hy sê die ANC-lede wat vandag gekies het om ‘n korrupte president te steun, moet deeglik besef dat hul keuse onafwendbaar tot die ondergang van die ANC sal lei.

In sy toespraak het dr. Groenewald gesê die publiek kan net vertroue in die president van ‘n land hê indien hy in die belang van die mense van die land optree.

“Wanneer ‘n president bereid is om verantwoordelikheid en aanspreeklikheid te aanvaar vir die dade van die regering, of dade wat hy toelaat, dan kan gesê word dit is ‘n verantwoordelike president.

“Suid-Afrika het egter ‘n president wat gedurig die blaam vir probleme na ander verskuif. As die ekonomie nie groei nie, gee hy witmonopoliekapitaal die skuld. Niks is ooit sy skuld nie,” het dr. Groenewald gesê.

Hy het ANC-parlementslede ook daarop gewys dat hulle nie noodwendig die mosie hoef te steun nie, en dat hulle ook bloot die buitestemming opsie kan uitoefen.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.