fbpx
Vryheidsfront Plus

ANC en sy anti-belastingbetaler begroting verantwoordelik vir chaos in munisipaliteit – sterk koalisiepolitiek is enigste teenvoeter

Die agterbaksheid van die ANC en die MCA-burgemeester en hul anti-belastingbetaler begroting is verantwoordelik vir die ontbinding van die raad van die Metsimaholo-plaaslike munisipaliteit (Sasolburg, Deneysville, Oranjeville) en die chaos wat tans in ons dorpe heers, het Theo du Toit, voormalige VF Plus-raadslid in die munisipaliteit gesê.

Du Toit en al die ander raadslede is van hul amp onthef toe die munisipale raad op 30 Junie vanjaar ontbind het, omdat die munisipale begroting nie volgens wetlike voorskrifte voor hierdie datum goedgekeur is nie.

Volgens Du Toit het die MCA, wat saam met al die ander opposisiepartye ‘n koalisie teen die ANC gevorm het om die munisipaliteit te regeer, binne drie maande na die verkiesing van die MCA-kandidaat as burgemeester met die ANC begin heul.

“Tesame het hulle ‘n anti-belastingbetaler begroting opgestel en teen wil en dank probeer om die begroting goedgekeur te kry. Hierdie begroting het onder andere bepaal dat die gratis 6 kiloliter water wat elke verbruiker maandeliks ontvang wegval en watertariewe volgens die verskillende vlakke met tussen 100% en 400% styg.

“Erfbelasting en sanitasie sou ook met meer as 6% styg en verbruikers met voorafbetaalde elektrisiteitsmeters sou met ‘n basiese maandelikse tarief, ongeag van verbruik, van ongeveer R20 belas word.

“Hierdie begroting is ‘n klap in die belastingbetalers van Metsimaholo se gesig en die VF Plus kon nie daarmee saamstem nie.

“Daar sal nou binnekort ‘n tussenverkiesing plaasvind waartydens ‘n nuwe munisipale raad verkies sal word.

“Ons doen ‘n ernstige beroep op die inwoners van Sasolburg, Deneysville en Oranjeville om seker te maak dat hulle korrek geregistreer is by die OVK en om te stem. Dit is die enigste manier waarop begrotings soos die en ander ondeurdagte en agterbakse optrede deur die ANC en sy bondgenote voorkom kan word.

“Die inwoners en veral belastingbetalers verdien ‘n beter regering en al hoe ons dit in Metsimaholo kan bewerkstellig is as kiesers die VF Plus se hande sterk maak om hulle belange in ‘n koalisie op die raad te dien omdat die VF Plus vir die belastingbetaler se regte veg en vir gelykheid en teen diskriminasie opstaan.

“Daar is nie so iets soos ‘n klein party in koalisiepolitiek nie, want in meer gevalle as nie kan die meerderheid nie sonder die instemming van die minderheid voortgaan nie en dit is waar ons krag lê,” het Du Toit gesê.

Kontakbesonderhede: 083 226 5936 / 082 674 6670

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.