Dit is oneerlik en onbillik van die Stad Kaapstad om steeds die peperduur waterprys en droogteheffing van inwoners van die stad te verwag wat met die droogte van twee seisoene gelede ingestel is.
Stad Kaapstad se opvanggebied het die afgelope twee seisoene milde reën gehad en die meeste van die damme wat die stad van water bedien, loop tans oor met nog reën wat voorspel word voordat die reënseisoen eindig.
Die damme in die gebied is tans gesamentlik meer as 95% vol.
Die VF Plus dring daarop aan dat die waterprys onverwyld aangepas word en dat die droogteheffing opgehef word.
Kaapstad het tans sy hoogste damvlakke sedert 2014 en talle inwoners sukkel om kop bo water te hou weens die ekonomiese impak van Covid-19. Die VF Plus sal die saak met die stad opneem.
Die party wil inwoners nogtans versoek om nieteenstaande die goeie watervoorraad steeds spaarsamig te werk met water. Die droogtesituasie van 2017/18 het gewys dat die volgende waterkrisis net een seisoen ver kan wees.
Navrae: 072 195 6581