"Die ontplooiing van soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) in Kimberley met die verjaardagvieringe van die ANC, is ongrondwetlik aangesien slegs die president toestemming kan verleen dat soldate saam met die polisie ontplooi kan word ingevolge Artikel 201 van die Grondwet," sê Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
"Hierdie optrede van die SANW is ‘n verdere bewys van swak dissipline in die weermag deurdat selfs bevelvoerders, soos in hierdie geval oënskynlik gedoen is, nie skroom om die Grondwet te oortree nie.
"Dit wil voorkom asof die weermag dink die ANC as politieke party is belangriker as die Grondwet en skep sodoende die indruk van politieke lojaliteit teenoor ‘n party wat totaal verbode is in die Weermag."
"Die feit dat die soldate luidens berigte dadelik onttrek is toe hul teenwoordigheid rugbaar geword het, beteken dat daar waarskynlik ‘n onwettige bevel uitgereik is ingevolge waarvan die soldate ontplooi is. Die verantwoordelike persone sal moet verduidelik waarom dit gedoen is.
"Die VF Plus sal vrae in die parlement vra oor wie die opdrag gegee het en of daar enige stappe teen die persone geneem is rakende die onwettige bevel."
"Dit is juis die taak van die weermag om die Grondwet van Suid-Afrika te verdedig in terme van sy territoriale integriteit waarvan die Grondwet deel is. Hierdie optrede doen die teenoorgestelde deur juis die Grondwet te skend,'sê Groenewald.