fbpx
Vryheidsfront Plus

Onderwysstelsel faal meer as 560 000 leerlinge

"Die hoë universiteitsuitvalsyfer en jeug-werkloosheidskoers in Suid-Afrika genoodsaak ‘n klemverskuiwing weg van ‘n blote matriekslaagsyfer, na een waar indringend gekyk moet word of leerlinge voldoende voorberei word vir die werkplek en tersiêre onderrig," sê Tammy Breedt, VF Plus-LP en nasionale jeugleier.

"Die uitvalsyfer van studente aan universiteite is sowat 40% en slegs 22% van studente voltooi ‘n driejaargraad in drie jaar. Jeugwerkloosheid is ‘n nasionale krisis met 58% van die jeug wat werkloos is.

"Dit is onrusbarend dat sowat 140 000 matriekleerlinge nie universiteits- of diplomavrystelling kon behaal nie en net-net deur is. Dit is egter positief dat die hoeveelheid leerders met universiteitvrystelling met 8% sedert 2018 gestyg het.

"Slegs 42% (409 906) van alle leerders wat in 2008 met Graad Een begin het, het in 2019 matriek geslaag. Dit beteken dat 566 060 leerders nie graad 12 geslaag het nie.

 

"Die ANC-regering gebruik die matriekslaagsyfer as ‘n rookskerm vir hierdie tekortkominge en die realiteit van die uitvalsyfer. Die maatstaf van onderwys behoort nie ‘n kunsmatige slaagsyfer te wees nie, maar moet gehalte en die deurvloeisyfer van leerlinge op skool in ag neem."

 

"Die minister van basiese onderwys, me. Angie Motshega, het in die verlede al onderneem om ander maatstawwe in die toekoms te gebruik en om breër statistiek rondom die uitslae te gee. Die maatstaf van sukses van die onderwysstelsel behoort die indiensneming en gereedheid vir tersiêre onderwys van skoolverlaters te wees en nie hoeveel leerlinge die minimumvereistes kon bereik nie. 

"Die hoë jeugwerkloosheidkoers en die hoë uitvalsyfers van skoolleerlinge en universiteitstudente bewys dat die onderwysstelsel leerders faal deur hulle nie voor te berei vir die werkplek of voortgesette studie nie. 

 

"Die tekort aan die ontwikkeling van kritiese denkvermoë en vaardighede van skoolverlaters maak dit byna onmoontlik vir skoolverlaters sonder verdere kwalifikasie om die arbeidsmag te betree aangesien die fokus verskuif het na slegs voorbereiding om die matrieksertifikaat te behaal." 

 

"Die VF Plus wens leerlinge en toegewyde onderwysers geluk wat ten spyte van moeilike omstandighede en talle uitdagings goed presteer het en ‘n positiewe verskil gemaak het," sê Breedt.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.