fbpx
Vryheidsfront Plus

Rampbestuurswet: VF Plus wil toekomstige magsmisbruik van regering inperk met privaatlid-wysigingswetsontwerp

Die nasionale Covid-19-inperking het groot gebreke in die bestaande Rampbestuurswet uitgelig, in besonder die onbeperkte mag wat dit aan die regering gee, die magsmisbruik wat daaruit voortspruit en die tekort aan werklike parlementêre verantwoordbaarheid en oorsig.

Die VF Plus is van mening dat enige wet in ‘n grondwetlike demokrasie, wat so ‘n ingrypende impak op die lewe en menseregte van landsburgers het soos wat ondervind is met die Rampbestuurswet, onderhewig moet wees aan wetlike verantwoordbaarheid en oorsig.

Daarom het die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, ‘n privaatlid-wysigingswetsontwerp ingedien om parlementêre oorsig en verantwoordbaarheid te vestig rakende besluite wat in terme van die Rampbestuurswet geneem word.

Die wetsontwerp word Vrydag (23 Oktober 2020) in die Staatskoerant gepubliseer. 

Die wetsontwerp stel dit ten doel dat slegs die Nasionale Vergadering van die parlement in die geval van ‘n nasionale ramptoestand, die tydsduur van die ramptoestand mag bepaal en verleng. Dit moet voorafgegaan word met ‘n openbare debat oor die aangeleentheid.

Dit stel ook voor dat alle regulasies aangaande die ramptoestand aan die Nasionale Vergadering voorgelê moet word vir goedkeuring en/of verandering wat volg op ‘n openbare debat.

Ingevolge die bestaande Rampbestuurswet kan die regering eensydig die tydperk van ‘n ramptoestand onbepaald van maand tot maand verleng.

Die wetsontwerp maak voorsiening dat ‘n inperkingsperiode van slegs 21 dae aanvanklik afgekondig mag word deur die betrokke minister, wat ook die mag het om die inperking op te hef voor die verstryking van die tydperk.

Die voorgestelde wetsontwerp bepaal dat die inperkingsperiode deur die Nasionale Vergadering verleng mag word vir tydperke van drie maande. Die eerste verlenging sou ‘n blote meerderheid van stemme vereis (50% plus) en daarna sou ‘n meerderheidstem van 60% of meer nodig wees.

Tydens 'n ramptoestand, soos dit tans is, word alle regulasies deur die minister van samewerkende regering (in hierdie geval Nkosazana Dlamini-Zuma) uitgereik sonder parlementêre goedkeuring.

Met die Covid-19-ramptoestand het die minister eensydig ‘n reeks regulasies uitgereik wat ‘n ingrypende, negatiewe impak gehad het op die land se ekonomie en op die lewe van elke Suid-Afrikaanse burger.

Miljoene werkgeleenthede het verlore gegaan, sake-ondernemings is verwoes en duisende mense is tot bankrotskap gedryf. Van die regulasies het ook die deur oopgemaak vir wydverspreide korrupsie en diefstal van geld wat vir noodleniging bewillig is.

Van die regulasies was dubbelsinnig bewoord, teenstrydig, irrasioneel en onprakties.

Die voorgestelde wetsontwerp gee ook die mag aan die Nasionale Vergadering om regulasies af te keur of goed te keur. Dieselfde vorm van oorsig is ook van toepassing in die geval van provinsiale en munisipale ramptoestande.

Die VF Plus is daarvan oortuig dat die veranderinge ‘n ingrypende verbetering is op die bestaande stelsel, dat dit die regerende party se ongebreidelde magte soos tans, drasties sal inperk en dat dit tot voordeel is van elke Suid-Afrikaner, veral onder ‘n regering waar die ANC aan bewind is.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.