fbpx
Vryheidsfront Plus

Rampbestuur-regulasies word misbruik om grondbesetting te bevorder

"Die rampbestuur-regulasies wat bepaal dat uitsettings nie gedoen mag word nie word misbruik deur grondbesetters en sekere politieke partye om onwettige grondbesetting te bevorder. Daar is tans ‘n duidelike toename in onwettige besetting," sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

"Die tussentydse interdik wat vandag in die Kaapstadse hooggeregshof toegestaan is, wat bepaal dat die Stad Kaapstad nie mense uit hul huise mag sit en ook nie strukture ongeag of dit bewoon word mag afbreek nie, is ook gevaarlik.

"Indien hierdie tussentydse interdik later ‘n bevel van die hof sou word, sal dit ‘n gevaarlike presedent skep.
Hierdie rampbestuur-regulasies met betrekking tot uitsettings moet nou gewysig word. Dit is onaanvaarbaar dat onwettige grondbesetters ingevolge die regulasies grond mag beset sonder om verwyder te word.

 

"Dit bedreig nie net eienaarskap nie, maar skep die potensiaal vir ernstige konflik aangesien grondeienaars wat hulle nie meer tot die hof kan wend om hul eiendom te beskerm nie, moontlik die reg in eie hande kan neem om hul eiendom te beskerm."

 

"Die hofuitspraak skep die indruk dat mense tans misbruik mag maak van die inperkingstydperk om onwettig grond te beset sonder dat teen hulle opgetree kan word en die vraag is hoe lank die ramptoestand nog van krag gaan wees.

"Daar is sekere politieke partye wat die inperkingstyd misbruik om hul politieke en populistiese agendas te bevorder.

"Die VF Plus is van mening dat die regulasies onmiddellik gewysig moet word en die interdik geappelleer moet word. Die regulasies skep ‘n onhoudbare situasie waarvan onwettige grondbesetters misbruik kan maak nieteenstaande vorige uitsprake van president Cyril Ramaphosa dat daar streng opgetree sal word teen onwettige grondbesetters en dat dit nie geduld sal word nie.

"Die regulasies en hofuitspraak maak ‘n bespotting van die president se versekering," sê Groenewald.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.