Die VF Plus het ‘n klag van waterbesoedeling ingedien by die Gautengse departement van omgewingsake en landelike-ontwikkeling teen die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp, Tarlton, Magaliesburg en Muldersdrift) weens die rioolstorting in drie riviere asook ondergrondse waterbesoedeling.
Riool vanaf die Percy Steward-rioolplaas word in die Bloubankspruit, Blougatspruit en Krokedilrivier gestort wat veroorsaak dat boere nie boorgatwater kan gebruik, besproeiing uit die riviere nie moontlik is nie en vakansieplase en gastehuise langs die riviere se besoekersgetalle daal omdat gaste oor die stank kla.
Die besoedelde Bloubankspruit wat deur die wêreldbewaringsgebied na die Wieg van die Mensdom vloei waar verskeie hominied-fossiele in die gebiede van Sterkfontein, Swartkrans en Kromdraai aangetref word, is reeds onder die aandag van die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kultuurorganisasie (Unesco) gebring.
Die VF Plus het verskeie versoeke aan die Mogale City-plaaslike munisipaliteit gerig om die besoedeling vanuit die rioolplaas stop te sit, maar sonder sukses. ‘n Tender vir die verskaffing van ‘n chloreringsdiens aan die Percy Steward-rioolplaas wat verlede jaar geadverteer is, is nog nie toegeken nie.
Vakansieplase buite Krugersdorp en Magaliesburg, wat reeds deur Covid-19-inperking finansieel benadeel is, word nou verder aan bande gelê omdat hulle genoodsaak is om gaste weg te wys of baie minder te huisves. Die toeristebedryf wat jaarliks groot getalle besoekers na die Wieg van die Mensdom lok weens sy vele unieke besienswaardighede, kan nie bekostig dat Mogale City se wanbestuur hul verder verarm nie.
Die wanbestuur van Mogale City strek veel verder as net rioolbesoedeling en behels ‘n algehele ineenstorting van infrastruktuur en dienslewering.
Die VF Plus sal nie huiwer om munisipale wanbestuur-praktyke te openbaar en owerhede te dwing om in te gryp tot voordeel van elke belastingbetaler nie.
Navrae: 082 806 7891