Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Onaanvaarbaar dat die geneesheer-generaal skotvry afkom ná besit van ongelisensieerde vuurwapen

Dit is onaanvaarbaar dat die geneesheer-generaal en hoof van Suid-Afrika se militêre gesondheidsdiens, lt.genl. Zola Dabula, skotvry kon afkom nadat hy vroeër vanjaar in hegtenis geneem is en ‘n nag in die Temba-polisieselle deurgebring het weens die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen.

Die minister van polisie, Bheki Celi, vaar gereeld uit teen wettige vuurwapen-eienaars asof hulle vir misdaad verantwoordelik is. Hier is nou ‘n geval waar ‘n hoë weermag-offisier klaarblyklik die wet oortree het met ‘n onwettige vuurwapen, en nou wil dit voorkom of die saak doelbewus onder die mat ingevee word.

Die ondersoekdossier van die polisie het dit baie duidelik gestel dat die wapen in lt.genl. Dabula se besit was, maar nie in sy naam gelisensieer nie. Daar bestaan dus geen twyfel nie dat hy onwettig in besit was van ‘n vuurwapen en ammunisie en dat vervolging om hierdie rede moet plaasvind.

Om nou aan te voer die dossier is nie meer beskikbaar nie en dat die saak op 20 Augustus teruggetrek is weens ‘n beweerde gebrek aan getuienis, laat die vermoede van korrupsie ontstaan en die VF Plus sal die ministers van justisie en polisie versoek om te verduidelik hoe so ‘n eenvoudige saak sonder vervolging kan eindig.

Die betrokke vuurwapen was beskikbaar vir die saak en daar is vasgestel dit was nie in lt.genl. Dabula se naam gelisensieer nie. Dit is voldoende gronde vir vervolging. Die VF Plus dring daarop aan dat die saak voortgaan en dat die persone wat verantwoordelik is vir die dossier, ook verantwoording doen en aangekla word indien nodig.

Dit is net te maklik om op grond van ‘n beweerde vermiste dossier ‘n belangrike strafregtelike saak net te laat vaar. Wanneer dit gebeur, laat die strafregstelsel die mense van Suid-Afrika in die steek.

Die VF Plus se leier (dr. Pieter Groenewald), sal in die parlement opvolgvrae vra oor die aangeleentheid om toe te sien dat reg oor hierdie aangeleentheid geskied.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.