President Cyril Ramaphosa se “gesprek met die mense van Suid-Afrika” vanaand was blote politieke opportunisme en ʼn skaamtelose misbruik van staatshulpbronne om ʼn sinkende ANC-skip voor Woensdag se verkiesing te probeer red.
Dit was vroeg vandag reeds in die media duidelik dat daar geen dwingende kwessie was wat ʼn staatshoof se aankondiging aan die publiek geregverdig het nie.
Die toespraak self was ʼn onbedekte voorbrand om vir die ANC te stem met die “onreg van die verlede” as agtergrond.
Daar kan geen twyfel bestaan nie dat hierdie misbruik van die SABC bloot om die ANC se politieke oorlewing was.
Selfs die aankondiging daaroor op die regering se amptelike webblad vandag het geen regverdiging vir die toespraak gegee nie.
Die amptelike aankondiging was bloot dat die president die “nasie” sou toespreek om Sondag 26 Mei en dat die SABC alle aspekte rondom die uitsending sou hanteer.
Selfs wat medianavrae aanbetref, was daar bloot ʼn e-posadres vir die president se woordvoerder, Vincent Magwenya. Navrae aan sy adres is nie beantwoord nie. Geen politieke leier is ingelig oor wat gesê sou word nie.
Dit het duidelik gemaak dat die toespraak nie gaan oor enige kwessie wat gewone Suid-Afrikaners raak nie, maar net oor die laaste blootstelling vir die ANC.
Die ANC het hiermee vir opnuut gewys dat hy nie skroom om belastingbetalers se geld en hulpbronne vir sy eie gewin te gebruik nie.
Suid-Afrika hoef nie vir ʼn beter rede te soek om ontslae te raak van ʼn manipulerende regering wat die land op sy knieë gebring het nie. Woensdag se verkiesing is die waterskeiding.