Die regering van Suid-Afrika het met sy kritiek op Israel se militêre optrede teen Hamas omonwonde sy steun toegesê aan die aanval op Israel en die moord op burgerlikes wat selfs babas insluit.
President Cyril Ramaphosa het luidens mediaberigte vandag in Boksburg by ’n vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) gesê Israel se optrede teen die Hamas-aanval kom neer op “volksmoord”.
Die VF Plus vind dit uiters betreurenswaardig dat president Ramaphosa nie ook bereid was om die Hamas-aanval op Israel as volksmoord te bestempel nie.
Suid-Afrika het vandag deur die president se steun aan Hamas en Palestina sy rug duidelik gedraai op Westerse waardes en sy steun toegesê aan lande en organisasies wat terreur aanhang as maatstaf en metode om te regeer.
Suid-Afrika se inwoners wat enigsins beskaafde etiese en morele waardes aanhang kan en mag hulle nie vereenselwig met verkragting, kindermoord en die ontvoering van onskuldige burgerlikes nie.
Alle Suid-Afrikaners wat hierteen gekant is, sal ná vandag se uitsprake van president Ramaphosa hul kop in skaamte moet laat sak.
Hierdie standpunt van die president het dit finaal onderstreep dat regdenkende mense nie langer in die skade en skadu van die ANC kan leef nie.