Die minister van gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi het tydens ʼn sitting van die portefeuljekomitee vir gesondheid teenoor die VF Plus erken dat die R89 miljoen wat bestee is op advertensieveldtogte vir die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) grotendeels geldvermorsing was.
Volgens die minister het die besteding nie waarde vir geld gebied nie. Die onreëlmatighede waarby die maatskappy Digital Vibes betrokke was, het verder tot die vermorsing bygedra.
Dié erkenning van die minister was in antwoord van ʼn vraag van die VF Plus oor hoe die veldtog geregverdig kan word. Die antwoord bevestig die VF Plus se siening dat die advertensieveldtogte blote geldvermorsing was.
Dit onderstreep terselfdertyd hoe desperaat die regering is om ʼn onuitvoerbare plan met hul eie belastinggeld aan die publiek te verkoop.
Luidens ʼn antwoord van die minister op ʼn geskrewe vraag van die VF Plus, is R77 790,588.80 miljoen gedurende 2020 bestee by die omstrede maatskappy Digital Vibes.
Volgens die minister is hierdie geld heraangewend vir kommunikasie met die publiek oor Covid-19. Die Digital Vibes-skandaal waarby dr. Zweli Mkhize in die Covid-19-tydperk betrokke was, is nog vars in die geheue.
Die portefeuljekomitee het ook aangedui dat hy nog wag op ʼn verslag van die departement oor die Digital Vibes-skandaal wat al meer as drie jaar uitstaande is.
In September 2024 is ʼn verdere R11 670,341.95 miljoen betaal aan die maatskappy KMTV Media vir ʼn advertensieveldtog. Die VF Plus sal navraag doen oor die presiese aard hiervan.
Hierdie geld kon veel beter aangewend gewees het gegewe die verval en wanfunksionering van openbare hospitale en klinieke weens swak infrastruktuur, ʼn tekort aan mediese personeel, ambulanse, dokters en verpleegsters.
Apteke staan leeg, mediese toerusting ontbreek en daar is ʼn tekort aan beddens en selfs water. Sekere geriewe se agterstallige skuld aan diensverskaffers is só groot dat dit hul begrotings totaal insluk.
Mediese personeel in die openbare sektor werk tans onder geweldige druk en onder moeilike omstandighede met dít wat tot hul beskikking is.
Deurlopende oorsigbesoeke aan hierdie instellings landwyd wys bo alle twyfel dat hulle nie gereed is vir die regering se grandiose NGV-plan nie. Soos dit is, kan hulle nie behoorlik na pasiënte omsien nie.
Die regering van nasionale eenheid (RNE) kan nie toelaat dat selfs net gedeeltes van die NGV in werking gestel word nie. Dit is onuitvoerbaar.
Die VF Plus handhaaf nog deurentyd die standpunt dat hy die NGV in geen vorm sal steun nie en het ook by meer as een geleentheid die wet in sy geheel in die parlement verwerp.
Die NGV is reeds gedoem tot mislukking en moet geskrap word voordat dit alle gesondheidsdienste in die land vernietig tot op die vlak waar openbare sorg tans is. Die publiek gaan eindelik die groot verloorders wees.


