Suid-Afrika verkeer steeds in ʼn groot ekonomiese krisis. Die skade van dekades onder ʼn ANC-regering en verkeerde beleidsrigtings sal nie oornag reggedokter kan word nie. Daar is wel ʼn paar strale van hoop wat deur die donker wolk begin skyn.
Uit vandag se mediumtermynbegrotingsraamwerk van die minister van finansies, mnr. Enoch Godongwana, wil dit voorkom of die blinde optimisme en vae beloftes van vorige jare plek gemaak het vir ʼn meer pragmatiese beskouing van die land se ekonomiese en fiskale probleme en ‘n klemverskuiwing na die privaatsektor wat gekoester moet word om die ekonomie te red.
Dit blyk ook dat die regering van nasionale eenheid (RNE) hoop gebring het dat veranderinge wel moontlik is. Min. Godongwana het dit tereg ʼn “vars gevoel van hoop, energie en kameraadskap” genoem.
Die harde realiteit bly dat die regering se skuldvlakke onvolhoubaar hoog is en dat daar selfs meer geleen sal moet word. Die begrotingstekort neem dus toe en vir elke rand belasting wat die staat in die huidige boekjaar invorder, gaan 22 sent aan die diens van skuld.
Teen 2025 sal die land se skuld sowat R6 biljoen (6 duisend miljard rand) beloop.
Belastinginvordering is stadiger as verwag weens ontoereikende ekonomiese groei.
Positiewe aspekte is dat die minister besef dat daar geprioritiseer moet word om ʼn uitvoerbare en stabiele fiskale raamwerk daar te stel om groei te bewerkstellig. Ook dat die nodige strukturele hervormings daarvoor nodig is.
In die verlede het die regering ook gesê wat nodig is vir ekonomiese groei. Die uitvoering van die planne het egter agterweë gebly.
Die minister het vandag infrastruktuurontwikkeling soos watersuiweringsaanlegte tot prioriteit verklaar en daarmee saam vennootskappe met die privaat sektor om die ontwikkeling te laat realiseer.
Dit is vir die VF Plus ʼn positief en ʼn verskuiwing van vorige beleidsrigtings. Met die huidige toestand en tekorte in kerninfrastruktuur kan die ekonomie nie ontwikkel nie.
Die feit dat die minister vir die eerste keer daadwerklike stappe aangekondig het om die staat se salarisrekening te verklein deur waarskynlik vervroegde aftreepakkette aan amptenare te bied wat nie noodsaaklike dienste verrig nie, dui op daadwerklike optrede.
Dit is ʼn goeie begin en die VF Plus sal deur sy deelname aan die RNE en met sy rol in die parlement toesien dat stappe geneem word om volhoubare ekonomiese groei te bewerkstellig tot voordeel van almal in die land.


