Vanaand se staatsrede is waarskynlik die belangrikste wat pres. Cyril Ramaphosa in sy ampstermyn sal lewer. Sy boodskap sal lotsbepalend vir Suid-Afrika se onmiddellike toekoms en daarna wees.
Dit moet leiding gee rondom die posisionering en visie van die regering van nasionale eenheid (RNE).
Dit laat die vraag ontstaan wie gaan opdaag om die staatsrede te lewer: Die president van die land of van die ANC?
Indien pres. Ramaphosa opdaag as president van die ANC wat op al die stoele probeer sit wat sy party met al sy groeperinge soos die SAKP, Cosatu, die vroueliga, die jeug en andere uitgepak het met die Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR) as gesamentlike doelwit, sal die pad katastrofies wees.
Indien hy opdaag as president en leier van die RNE en alle Suid-Afrikaners wat die moed aan die dag kan lê om sterk standpunte in te neem tot voordeel van die toekoms van almal in Suid-Afrika, kan die voordele van die RNE grootliks ontsluit word.
Dit sluit in daadwerklike stappe en beleidskuiwe om ekonomiese groei en werkskepping moontlik te maak, doelgerigte misdaadbestryding en opregte optrede teen korrupsie.
Die VF Plus vertrou dat die president wat vanaand sal opdaag vir die staatsrede, laasgenoemde sal wees wat die land se belange vir eens bo dié van die ANC sal plaas.


