Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Staatsrede: Dit is steeds die ANC voor Suid-Afrika

Die hoop dat pres. Cyril Ramaphosa Suid-Afrika vanaand eerste sou stel met ‘n lotsbepalende staatsrede wat stukrag aan die regering van nasionale eenheid (RNE) moes gee, het beskaam.

Wat hoop moes bring vir die toekoms, het eerder vrae geskep oor die president se erns om die partye in die RNE as gelyke regeringsvennote te behandel.

President Ramaphosa was in die eerste plek weer president van die ANC en sy vennote met die Nasionale Demokratiese Rewolusie (NDR) as gesamentlike doelwit. Daarna kom Suid-Afrika en sy mense.

Dit het die president gewys deur af te skop met ‘n dwarsklap na pres. Donald Trump en Amerika deur te sê Suid-Afrika sal hom deur niemand laat voorskryf nie.

Hy het Suid-Afrika weer eensydig verbind tot die Palestynse saak en Suid-Afrika se aksie teen Israel in die Internasionale Strafhof.

Ná die ondertekening van Bela en die Onteieningswet, het die president dit duidelik gemaak dat die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) ook ononderhandelbaar is.

Die gevolge van apartheid is uitgelig met veral ongelyke grondbesit wat herstel moet word. ‘n Duidelike verwysing na die Onteieningswet.

Die gewone waarnemings is gemaak oor probleme wat almal ken, soos die ekonomie wat herstel moet word om werk te skep deur ‘n “professionele” staatsdiens.

Ander innoverende planne om die staatsdiens te verbeter, selfs deur die gebruik van kunsmatige intelligensie (KI), is genoem. Soos die beloftes van “superstede”, moet dit liefs met ‘n knippie sout geneem word.

Daar was ook waarnemings oor paaie wat herstel moet word, dat riool deur strate loop en dat infrastruktuur aandag moet geniet – met die belofte dat planne in plek gestel sal word om hieraan aandag te skenk.

Met onteiening sonder vergoeding wat nou gerealiseer het, klink die belofte van groot beleggers wat op die punt staan om die geldkrane na Suid-Afrika oop te draai, selfs meer onwaarskynlik as in die verlede.

Die president het weggeskram van alle sake van wesenlike belang. Geen konkrete optrede om beleid te verander om werklik beleggers te lok en ekonomiese groei te bewerkstellig nie.

Net meer beloftes oor ‘n dinamiese en werkende spoorstelsel, skoon en standhoudende water en volgehoue kragvoorsiening.

Die enkele ligpunte waar vennote in die RNE vooruitgang gebring het, is uitgelig as die enkele prestasies van die regering. Die president het selfs genoem dat die privaat sektor nie die regering se vyand is nie en kan help met ekonomiese groei.

Al die ondernemings en beloftes, soos reuse beleggings wat volgens die president op pad is om die land binne te vloei, behoort vir die Suid-Afrikaanse publiek al bekend te klink.

Net die uitvoering daarvan is nog nie gesien nie. Nie eens pres. Ramaphosa se beloftes kan meer hoop skep nie.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.