fbpx
Vryheidsfront Plus

Pres. Zuma se begrotingsposdebat: Pres. Zuma in stryd met Grondwet oor sy verdelende uitsprake

President Jacob Zuma is ywerig om geskiedenislesse uit te deel. Sy uitsprake, soos op Afrikadag toe hy gesê het daar was vrede in Afrika tot ‘ander’ in die land opgedaag het, waar hy duidelik na wittes verwys, maak dit egter duidelik dat die president self ‘n geskiedenisles nodig het.

Daarbenewens vereis Suid-Afrika se Grondwet dat die staatspresident eenheid bevorder. Met sy verdelende uitsprake doen president Zuma net die teenoorgestelde, het dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, vandag gesê met die begrotinsposdebat van die staatspresident. Hier volg dr. Mulder se volledige toespraak.

 

Speaker,

Die president gee graag vir my geskiedenislesse. Ek dink ek en hy moet ‘n dag gaan sit en praat tot ons saamstem oor die geskiedenis. Dit kan nie wag tot hy afgetree het nie, want hy gebruik geskiedenis daagliks in sy toesprake. Sondag sê die president in Zoeloe in Mamelodi by die Afrikadagviering: “Afrikane het in vrede met mekaar saamgeleef en pret gehad maar toe kom die ander – wat hy liewer nie by die naam gaan noem nie.” Die ander het die vrede en harmonie kom versteur.

Agb. president u is weer verkeerd. Was daar geen konflikte voor die ander (of die Wittes) gekom het nie?

Waarvoor word koning Shaka onthou? Hy word onthou dat hy die lang werpspies vervang het met die kort steekspies. Hy word onthou vir die militêre formasie in die vorm van die horings van ‘n bul waarmee omsingeling en knypbewegings uitgevoer is.

Het hy die kort spies gebruik om braaivleis te maak vir die Sotho en ander kleiner stamme in Suid-Afrika?

Het hy die horings van die bul-formasie gebruik om kleiner stamme te omsingel sodat hy kos en klere vir hulle kon uitdeel?

Nee, dit is gebruik om dood te maak en oorlog te maak teen ander swart mense. U skep berekend ‘n verkeerde indruk van die verlede. Die “ander” waarvan die president praat, my voorvaders, was op daardie tydstip nog nie in die noorde van Suid-Afrika om die harmonie en vrede te versteur nie. (Ek kan aan hom ‘n lang lys gee van sulke swart op swart konflikte.)

Die president vra vandag dat ons sy begroting moet goedkeur. Die grondwet sê in artikel 83 wat die take van die president is:

a) Hy is hoof van die staat; b) moet die grondwet in stand hou en; c) “bevorder die eenheid van die nasie”. Ek haal aan uit die grondwet.

Nie die eenheid van die ANC nie; die eenheid van die nasie moet hy bevorder. As die president aanmekaar die geskiedenis verdraai en van die “ander” Suid-Afrikaners praat wat die vrede en harmonie in Suid-Afrika kom verstoor het, tree hy regstreeks op teen die grondwet wat sê hy moet eenheid bevorder. In ‘n land met soveel konflikpotensiaal is dit ‘n ernstige aanklag teen die president.

Wat verwag ons van hom?

Toe president Zuma Chris Hani se graf as ‘n erfenis gedenkplek verklaar het, het hy gesê: “Destroying the statues flies in the face of the preservation of the history of our country.” Daarmee stem ek saam. Dit is leierskap en die bevordering van eenheid.

Op 18 April vanjaar het die Vryheidsfront Plus ‘n vergadering gehad waar die vernedering en beskadiging van die grafte en standbeelde van ons voorvaders bespreek is. Ek praat van Kommandant Generaal JIJ Fick se graf, Paul Kruger en ander. Tydens die vergadering het ons besluit dat die woede van ons voorvaders nie op ons gerig moet word nie, maar dat die voorvaders se woede en ongelukkigheid gerig moet word op diegene wat hulle beledig en hulle so verneder. So ek vra hierdie raad om saam met my dop te hou wat met daardie persone in die EFF en in die ANC wat hierdie dade so aanmoedig, in die toekoms gaan gebeur.

Agb. president, hier is meer mense in Suid-Afrika wat wil bou as wat wil afbreek; hier is meer mense wat wil saamwerk as wat wil verdeel. Kom ons benut eerder hierdie positiewe energie as die negatiewe.

Kontaknommers: 083 419 5403 / 082 674 6670

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.