Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

VF Plus bekom wel statistiek wat dui op die benarde finansiële situasie van die e-tol-projek

Statistiek met syfers wat die VF Plus bekom het oor die finansiële situasie van die e-tol-projek, maak dit duidelik waarom die ANC-regering nou desperate spronge uitvoer om die projek van ondergang te red, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

Nadat ‘n parlementêre vraag van adv. Alberts vroeër die week bloot met ‘n grafiek sonder syfers beantwoord is, is die syfers nou wel aan die VF Plus verskaf. Die grafiek met syfers word hierby aangeheg.

Adv. Alberts sê dit bewys onteenseglik dat die staat se geprojekteerde aanname van inkomste hoegenaamd nie gerealiseer het nie, en dat die stelsel veral sedert Junie verlede jaar vinnig besig is om totaal in duie te stort.

Die statistiek wys die volgende:

Junie 2014 was die laaste maand waar die werklike inkomste die projeksie oorskry het. Sedertdien het die gaping hand oor hand vergroot en het dit veral vanjaar totaal buite verhouding geraak.

In Januarie vanjaar was die verskil tussen die werklike inkomste en die geprojekteerde inkomste R159 miljoen, in Februarie was dit R144 miljoen en in Maart R167 miljoen.

Die projek se lopende uitgawes alleen is R66 011 730 per maand. Dit is benewens die enorme maandelikse rentelas op die lening van ver meer as R20 miljard.

In Januarie vanjaar was die totale inkomste uit e-tol ‘n skamele R45 miljoen. Dit maak dit duidelik dat die stelsel misluk het en dat die openbare verset daarteen besig is om by die dag toe te neem.

Adv. Alberts sê om die publiek nou met drakoniese maatreëls te dwing om die immorele stelsel te steun en van ondergang te red, gaan die teenoorgestelde uitwerking hê, en gaan in die ANC-regering se gesig ontplof.

“Wat hier gebeur is die eerste ware teken dat die breë publiek besig is om in verset te kom teen die ANC se wanbestuur en magsmisbruik,” sê adv. Alberts.
Die vraag oor hoeveel skyfies maandeliks gederegistreer word, is ontwykend geantwoord sonder om syfers te verskaf. Die VF Plus aanvaar dit nie en sal volhard om aan te dring op ‘n antwoord.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.