Die VF Plus het volksmoord in die parlement se Nasionale Vergadering vergelyk met ‘n storm wat nie eensklaps uitbreek en verwoesting saai nie, maar deur sekere tekens voorafgegaan word. Die tekens is reeds daar en moet ernstig opgeneem word.
Dit is hierdie tekens wat mense in staat stel om betyds voorsorg teen moontlike vernietiging te tref. Hierdie vergelyking is getref in ’n lidverklaring van die VF Plus as deel van die hernude debat oor volksmoord, dreigende volksmoord, of die afwesigheid daarvan.
Die internasionale organisasie Genocide Watch is een so ’n instelling, wat verwikkelinge wêreldwyd dophou om betyds teen dreigende volksmoord te waarsku. Hulle identifiseer 10 stadia van volksmoord, waarvan slegs die negende uitwissing behels.
Volgens Genocide Watch staan wit boere in Suid-Afrika by stadium ses – polarisering. Kenmerke van hierdie stadium is polariserende uitsprake en propaganda, gematigde lede van die aggressor-groep wat vermoor word, asook lede van die teikengroep, ontwapening van die teikengroep en wetgewing wat selfverdediging ondermyn.
’n Stadium word bereik wanneer van die gelyste gebeure begin plaasvind, nie eers wanneer elkeen deel van die werklikheid is nie. Afskaffing van die kommando’s in 2003, wat vroeër landelike veiligheid verseker het, sowel as die konsepregulasies oor vuurwapens vir private sekuriteitsmaatskappye wat April vanjaar gepubliseer is, ondermyn boere se vermoë om hulself te beskerm aansienlik. Terwyl leiersfigure nie as sodanig geteiken word nie, is plaasmoorde ’n duidelik aanwysbare deel van die Suid-Afrikaanse misdaadtoneel.
Die aanspraak dat “Kill the Boer Kill the Farmer” letterlik of figuurlik is, verdwyn teen die werklikheid van plaasmoorde. Dit help ook nie om te sê die persoon wat ’n skare in die uitroep daarvan voorgaan is bloot die leier van ’n minderheidsparty, as die president hom nie teengaan nie.
Trouens, die president se aandeel aan die gesprek is op sigself kommerwekkend. In die konteks van grondhervorming praat hy op ’n uitsluitende manier van “our people”. Die gee stukrag aan polarisering as ’n land se president ’n deel van die bevolking nié as sy mense erken nie.
As die storm opkom, tref ’n mens voorsorg en wag nie tot die skip vergaan nie. Daarom dat die VF Plus volksmoord ernstig opneem en die aandag daarop vestig. Hoewel ons nog nie by die stadium van uitwissing trek nie, sou dit dwaas wees om daarvoor te wag voor aandag daarop gevestig word.


