Persone wat so maklik kritiseer en klippe gooi na Israel moet hulle eers vergewis van wat daar aangaan. ’n Eerstehandse besoek aan die land sou nie onvanpas wees nie.
Dit is sterk te betwyfel of al die Suid-Afrikaanse vyande van Israel al ’n besoek gebring het aan die Palestynse stad Ramallah. Of die Wesbank. Of die Gazastrook.
Die aanvalle op Israel vandag in die Suid-Afrikaanse parlement het al die gewone clichés bevat.
Dit bevestig die vermoede dat die persone wat dit uiter, totaal uit voeling is met verwikkelinge in die internasionale gemeenskap.
Die parlementsdebat oor Israel is boonop ‘n tragiese refleksie op Suid-Afrika se buitelandse beleid en sy houding jeens dié land.
Daarmee rangeer Suid-Afrika homself uit tot ’n irrelevante randeier oor die totale Israel-Palestina-aangeleentheid.
Hoe oningelig die kritici is, spreek uit die feit dat hulle duidelik nie weet daar is Palestyne in die Israelse weermag nie. Of verkose Palestyne in dié land se parlement nie.
Hulle weet duidelik nie van die internasionale Abraham-akkoord van 2020 tussen verskeie rolspelers soos om ’n middelgrond na vrede te soek nie.
Dit sluit in Midde-Oosterse Moslemlande wat normale diplomatieke verhoudinge nastreef, iets wat baie in Suid-Afrika verwerp.
Die volgende les kan ook gerus ter harte geneem word: Israel het niks van Suid-Afrika nodig nie.
Dié klein land is ’n reus op tegnologiese gebied wat kan help met Suid-Afrika se talryke probleme soos water en infrastruktuur. Ideologie klap egter die hand weg wat kan help met kos en water.
Nie almal in Afrika is so blind nie. Lande soos Angola, Kameroen, Kongo, Egipte, Ekwatoriaal-Guinee, Etiopië, Ghana, die Ivoorkus, Nigerië, Zambië en vele ander het normale diplomatieke bande met Israel tot groot voordeel van almal in daardie lande.
Suid-Afrika moet wakker skrik en hiervan kennis neem. Selfs Israel en Palestina self is al besig om aan te beweeg in die soeke na blywende oplossings en vrede.
‘n Ware vriend sou aan Palestina die raad gee om te help om ware oplossings te soek en nie die ewigdurende slagoffer te speel om die wêreld se simpatie te kry nie.
Om Israel die hele tyd aan te val is ’n speletjie waarvan die rakleeftyd nou verby is.