“Die provinsiale regering behoort dringend in die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit in te gryp, aangesien die bestuur van die munisipaliteit nie meer daartoe in staat is om dit behoorlik en tot voordeel van al sy inwoners te bestuur nie,” sê Susan Taljaard, VF Plus-raadslid in die Matjhabeng-raad.
Die grootskaalse ontwrigting by die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Welkom, Virginia, Henneman, Odendaalsrus en Allanridge) se kantore in Welkom het Maandag breekpunt bereik met ontstoke munisipale werknemers wat reeds sedert Vrydag die kantore op al drie vlakke van die gebou met rioolvuil bestook.
Die kantore is intussen ontruim en gesluit.
Broodnodige fondse wat vir infrastruktuur aangewend kon word, word aan salarisse bestee
Die werkers is ontevrede omdat hulle nog nie hul salarisse en oortydtoelaes ontvang het nie. Ontstoke werknemers maak die munisipaliteit onregeerbaar en verhinder die werknemers wat wel vir werk opdaag om te werk.
Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit is onlangs deur die Ouditeur Generaal uitgewys as die provinsie se grootste sondebok wat verkwissing betref.
Taljaard sê in ‘n verklaring die munisipaliteit verkeer in ‘n ongekende geldnood en het van die hoogste uitstaande skuld aan Eskom en hul waterraad in die land.
“Die munisipaliteit kan dus nie bekostig om die reeds belaaide salarisrekening te betaal nie.
“Die salarisrekening van die munisipaliteit word jaarliks net groter. Broodnodige fondse wat vir infrastruktuurinstandhouding en -ontwikkeling aangewend kon word, word aan salarisse bestee.
“Dit is ‘n bose kringloop wat veroorsaak dat inwoners nie hul munisipale rekeninge kan ontvang of betaal nie en die dienste waarvoor inwoners betaal nie gelewer kan word nie.
“Die uiteinde is ‘n munisipaliteit wat nie fondse kan in nie en ook nie die dienste waaruit die fondse gegenereer word kan lewer nie.
“Oorlaaide salarisrekeninge is ‘n probleem wat deur die ANC-regering veroorsaak is en jaar na jaar met ondeurdagte begrotings vererger word.
“Die munisipaliteit is veronderstel om werkskepping te stimuleer deur behoorlike dienste te lewer en infrastruktuur in stand te hou ten einde die privaatsektor by te staan om werk te skep en nie om werk te verskaf aan ‘n oormatige hoeveelheid amptenare nie.
“Die provinsiale regering behoort dringend in die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit in te gryp, aangesien die bestuur van die munisipaliteit nie meer daartoe in staat is om dit behoorlik en tot voordeel van al sy inwoners te bestuur nie.
“Die VF Plus eis dat die munisipale bestuurder afgedank word en Nasionale Tesourie dringend ingryp by die finansiële verknorsing waarin Matjhabeng homself bevind,” sê Taljaard.