Die ANC-regering laat die jeug van Suid-Afrika in die steek wat onderwys aanbetref en hou hulle sodoende gyselaar," het Wouter Wessels, VF Plus parlementêre woordvoerder vir jeug gesê.
Wessels het tydens 'n Jeugdag-debat Dinsdag in die parlement daarop gewys dat meer as die helfte van die land se mense jonger as 24 werkloos is.
"Die meeste graad 4-leerlinge is ongeletterd. ‘n 2016-Verslag van ‘n internasionale liggaam oor geletterdheid onder die jeug het Suid-Afrika laaste onder vyftig lande geplaas. Baie van die lande is veel armer as Suid-Afrika.
Die jeug is nie vry nie. Die regering hou hulle deur ongeletterdheid en hul blaam van die verlede vir alle probleme gyselaar vir eie, kort termyn-politieke gewin.
"Slegs 29% van studente wat in 2011 eerstejaars aan ‘n universiteit was, het eindelik hul graad behaal. Die res het misluk, hoofsaaklik weens akademiese mislukking. Die land se basiese onderwysstelsel laat die jeug in die steek.
"Solank as wat basiese onderwys, en in besonder die ontwikkeling van kinders van ‘n jong ouderdom, onvoldoende is en die fokus nie op moedertaalonderrig geplaas word nie, sal gratis hoër onderwys geen oplossing bied nie.
"Suid-Afrika moet lesse uit die geskiedenis leer en fokus op die hede en die toekoms. Die verlede kry die skuld vir alles sonder enige fokus op die toekoms. Die jeug is nie vry nie. Die regering hou hulle deur ongeletterdheid en hul blaam van die verlede vir alle probleme gyselaar vir eie, kort termyn-politieke gewin.
"Dit word gedoen deur wanbestuur, verkeerde politieke prioriteite en ‘n swak politieke wil. Die jeug, swart en wit, het ‘n bydrae om te lewer. Die regering skep deur rasgebaseerde wetgewing rassepolarisasie wat nie die potensiaal van die jeug ontgin om van Suid-Afrika ‘n beter plek te maak nie.
"Die regering het ‘n mond vol oor die bevordering van die jeug, maar selfs in die parlement kan gesien word hoe teen jonger parlementslede gediskrimineer word.
"Die tyd vir verandering het aangebreek," het Wessels gesê.