Die ANC se herinnering aan uud-president Nelson Mandela is dat hy probeer het om ‘n nalatenskap van integriteit en respek vir menseregte te vestig.
“Vandag word hierdie nalatenskap vertrap, ook deur die ANC-regering,” het dr Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus, tydens die Afrikadag-debat Dondderdag in die parlement gesê.
“Die ANC se Nelson Mandela was bereid om op te staan teen ‘n Afrika-land, Nigerië, en sy misnoeë uit te spreek teen die regering van president Sani Abacha weens die teregstelling van die skrywer Ken Saro-Wiwa.
“Nelson Mandela het respek gehad vir die wet.
“Toe Nelson Mandela gedagvaar is om voor die hof te verskyn het hy dit gedoen.
“Die oud-president het nie belastinggeld gemors in ‘n poging om uit die hof te bly nie,” het Mulder gesê.
“Wat het geword van Mandela se soeke na nie-rassigheid in ‘n diverse Suid-Afrika? Daar kan nie toegelaat word dat enige mens in Suid-Afrika ‘n rasse-agenda dryf en verdeeldheid veroorsaak nie. Nierassigheid moet weer omarm word.
Die kleur groen kom voor op 44 van die 55 vlae van Afrika se lande. Mulder sê vir die VF Plus simboliseer dié kleur Afrika en daarom is dit ook oorwegend die kleur op die party se wapen.
“Die wit mense van Suid-Afrika is afstammelinge van mense wat meer as 360 jaar gelede uit Europa in die land aangekom het en Afrika as hul tuiste aangeneem het. Hulle leef in Afrika en word in sy grond begrawe. Hulle is deel van Afrika.
“Die VF Plus is verbind tot Suid-Afrika en Afrika. Ons is mense van Afrika, en as almal na mekaar uitreik, sal ons ‘n sukses van die land maak,” het Mulder gesê.