"Die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (Obsa) mislei die Suid-Afrikaanse publiek deur op sy webwerf en publikasies te kenne te gee dat die bank daarop ingestel is om volhoubare sosio-ekonomiese ontwikkeling te bevorder en die lewenskwaliteit van mense in die Suider-Afrikaanse ontwikkelingsgemeenskap te verbeter," sê Jaco Mulder, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder van handel en nywerheid.
"Die regering veroorsaak deur sy werkwyse dat minder ontwikkelingskapitaal beskikbaar is vir noodsaaklike projekte om die Suid-Afrikaanse ekonomie en infrastruktuur te laat groei en kom neer op ‘n stroping van belasting.
"Dit is duidelik dat die R3.5 miljard wat aan die SAL toegeken is, ‘n reddingsboei is wat op slinkse wyse deur belastingbetalers gefinansier word wat sodoende die land se kanse op ekonomiese groei verder kan benadeel omdat die lening hoogs onwaarskynlik deur die bankrot SAL gediens sal kan word."
"Die VF Plus gaan die betrokke ministers tot verantwoording roep om verdere staatstroping te stuit," sê Mulder.