Die VF Plus se ingryping het direk daartoe gelei dat daadwerklik opgetree is om die skade te herstel aan die kragnetwerk in die gebied van die JB Marks-munisipaliteit (Potchefstroom en Ventersdorp) wat veroorsaak is deur ‘n hewige storm verlede maand.
Die effek van die stormskade op die erg verwaarloosde krag-infrastruktuur was omvangryk en veral die landbousektor is swaar getref. Verbruikers en boere en sakemanne in die besonder, het miljoene rande se skade gely.
Die VF Plus het onmiddellik ingegryp en druk op die munisipaliteit geplaas om die kragtoevoer te herstel. Kontrakteurs is reeds aangestel om die netwerk te herstel en tydens die raadsvergadering op 31 Januarie 2020 is aangekondig dat ses miljoen rand hiervoor bewillig is.
Dit is onaanvaarbaar dat die ANC se laksheid en onvermoë om te bestuur so ‘n groot impak op die lewe en inkomste van inwoners kan hê. Hierdie is een voorbeeld van die ineenstorting van feitlik alle gebiede onder ANC-bestuur.
Die VF Plus sal aanhou om met alles in sy vermoë te veg teen swak dienslewering van die ANC in die belang van alle inwoners wat daardeur geraak word.
Kontaknommer: 083 292 1157