Die mediaverklaring van die presidensie mislei die mense van Suid-Afrika deur voor te gee die Onteieningswetsontwerp wat vandag onderteken is, is billik. Die wese van die wet behels dat die staat voortaan in sekere gevalle teen “nul” vergoeding mag onteien, wat neerkom op onteiening sonder vergoeding.
Die VF Plus aanvaar dit nie en het hom deurlopend teen die skadelike gevolge van die wet uitgespreek. Die party sal ‘n tweeledige benadering volg om eiendomsreg in Suid-Afrika te beskerm:
Die VF Plus sal die grondwetlikheid van die wet in die Grondwethof betwis. Sou dit ongrondwetlik bevind word, sal die VF Plus as lid van die regering van nasionale eenheid (RNE) en kabinet alles in die stryd werp om ‘n wysigingswetsontwerp deur die kabinet te voer om die ongrondwetlikheid daarvan te wysig.
Ek het as leier van die VF Plus voorheen en ook verlede week in ‘n skrywe aan die president gevra dat hy die gees en strekking van die RNE en veral een van die pilare daarvan naamlik die grondwetlike waardes moet beskerm deur nie die wet te proklameer voordat die Grondwethof ‘n mening daaroor gegee het nie.
Sy antwoord was dat hy dit nie as ongrondwetlik beskou nie en het hy dit gepromulgeer.
Dit moet onthou word dat hierdie wet reeds voor die 2024-verkiesing deur die parlement gestoomroller is en die VF Plus het hom herhaaldelik sterk daarteen uitgespreek.
Die president het nié die RNE gekonsulteer voor ondertekening van die wet nie. Die VF Plus is daarvan oortuig dat die wet ongrondwetlik is en dat dit Suid-Afrika se ekonomie en stabiliteit ernstig kan benadeel.
Een van die belangrikste hoekstene van ʼn vryemark-ekonomiese stelsel is die reg op private grond- en eiendomsbesit. Hierdie wetsontwerp is niks anders nie as onteiening sonder vergoeding en bring alle eiendomsbesit in die gedrang.
Die wetsontwerp maak dit duidelik dat roerende sowel as onroerende eiendom soos intellektuele eiendomsbesit geraak word.
Almal in Suid-Afrika en in enige demokratiese bestel het die reg om eiendom te besit en die staat het geen reg om dit te onteien sonder vergoeding nie.