Die VF Plus is bekommerd oor die voortslepende krisis by die Elginbrug in Kemptonpark en eis dringende optrede om ‘n tragedie te voorkom.
Sedert die begin van Januarie het agt vragmotors onder dié lae brug vasgesit.
Jare se leë beloftes om ‘n oplossing te vind, het nog niks opgelewer nie.
Die VF Plus is in gesprek met die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), Afrigis SA (verantwoordelik vir Google-padkaarte in Suid-Afrika) en ander belanghebbendes om ʼn dringende oplossing te vind vir die probleme wat telkens by die Elginbrug afspeel.
Daar kan nie toegelaat word dat dieselfde tragedie by die Elginbrug afspeel soos wat gebeur het in Boksburg op 24 Desember 2022 toe ‘n brandstoftenkwa onder ‘n spoorwegbrug vasgesit en ontplof het nie.
Die VF Plus het intussen die Ekurhuleni-metro versoek om die nodige padtekens aan te bring om voertuie wat nie geskik is om die roete te gebruik nie, te waarsku.
Daar is ook twee alternatiewe roetes waarvan voertuie wat aflewerings by winkelsentrums ná die Elginbrug doen, gebruik kan maak.
Die twee roetes via Pretoriaweg en die P91, moet ook duidelik met padtekens aangedui word.
Beide die roetes is ʼn effense ompad, maar is ʼn beter alternatief om verdere ongelukke of tragedies te voorkom.
Die party sal diegene wat verantwoordelik is vir die Elginbrug onder druk plaas tot die gevaarlike situasie opgelos is.