Die VF Plus eis dat die bestuur van die Matlosana-plaaslike munisipaliteit (Hartbeesfontein, Klerksdorp, Orkney, Stilfontein) dringend stappe neem om te verseker dat diegene verantwoordelik vir die brandstigting by die munisipale kantore vandag, geïdentifiseer en strafregtelik vervolg word.
Die brand het ontstaan toe sowat 80 munisipale werknemers vanoggend die kantore gewelddadig betree het en onder meer meubels op die grondverdieping aan die brand gesteek het. Die hele gebou is ontruim en die betreders het administratiewe personeellede hardhandig behandel.
Dienslewering by die kantore is hierdeur tot stilstand gebring.
Die brandstigters is skynbaar in dispuut met die munisipaliteit oor uitstaande oortydbetaling.
Daar kan nie toegelaat word dat Matlosana-werknemers telkens dienslewering ontwrig, ander werkers bedreig en munisipale eiendom vernietig weens arbeidsdispute nie.
Die VF Plus sal voortgaan om druk toe te pas om te verseker dat werksetiek en dissipline in die munisipaliteit herstel word.


