Die VF Plus het na die goedkeuring van die Wysingswetsontwerp op Onteiening in 2023 ander politieke partye genader om in gevolge artikel 80 van die Grondwet die Grondwethof te nader om die grondwetlikheid van hierdie wysigingswet aan te veg.
Artikel 80 van die Grondwet bepaal dat een derde van die lede van die Nasionale Vergadering (NV) by die Grondwethof aansoek kan doen om ‘n bevel te verkry dat ‘n parlementswet in sy geheel of ten dele ongrondwetlik is.
Dit moet gedoen word binne dertig dae vanaf die datum waarop die president die wet bekragtig en onderteken het.
Die VF Plus doen daarom nou ‘n beroep op hierdie partye wat teen die wysigingswet gestem het om saam hierdie proses te begin.
Dit is een van die stappe wat die VF Plus neem om te verhinder dat die Onteieningswet wat pres. Cyril Ramaphosa gister bekragtig het, in werking gestel word.
Die VF Plus volstaan daarby dat die wet ongrondwetlik is. Dit hou nie net ernstige gevolge in vir Suid-Afrikaners wat eiendomsreg aanbetref nie, maar stuur ook ‘n uiters negatiewe boodskap na die internasionale gemeenskap.
Beleggers sal moeilik oortuig word om in ‘n land te belê waar hul eiendom sonder meer vervreem kan word.
Sou daar nie genoeg partye wees wat ‘n artikel 80-aansoek ondersteun nie, sal die VF Plus hom steeds na die Grondwethof wend om die grondwetlikheid van die wet te betwis.
Almal in Suid-Afrika en in enige demokratiese bestel het die reg om eiendom te besit en die staat het geen reg om dit te onteien sonder markverwante vergoeding nie.