Die Polokwane-plaaslike munisipaliteit het sy vierde agtereenvolgende gekwalifiseerde ouditverslag ontvang met die oudituitkomste vir die 2019/20-finansiële jaar en volgens die ouditeur-generaal (OG) word daar nie enige verbetering in die volgende 12 maande voorsien nie.
Die OG se verdoemende bevindings kom nie as ‘n verrassing vir die VF Plus nie.
Die OG het onder meer bevind:
• Redelike stappe is nie geneem om onreëlmatige uitgawes van R462 089 517 te voorkom nie en die meeste onreëlmatige uitgawes kan toegeskryf word aan die oortreding van die munisipale voorsieningsketting-bestuursregulasies. Die onreëlmatige uitgawes is ook deur die munisipaliteit afgeskryf sonder om ondersoek in te stel of dit verhaal kan word en of iemand daarvoor aanspreeklik gehou kan word.
• Skuldeisers is nie altyd binne 30 dae betaal nie;
• Elektrisiteitsverliese beloop R107 822 221 wat 15% van die totale gekoopte elektrisiteit verteenwoordig.
• 'n Voldoende bestuur-, rekeningkundige en inligtingstelsel wat inkomste en uitgawes verreken, is nie in plek nie.
• Prestasies van sommige kontrakteurs of verskaffers is nie maandeliks gemonitor nie.
• Tenders is toegeken aan verskaffers wat in diens was van ander staatsinstellings of wie se direkteure / hoofaandeelhouers in diens van ander staatsdepartemente was.
• Persone in diens van die munisipaliteit wie se nabye familielede 'n private of sakebelang gehad het in kontrakte wat deur die munisipaliteit toegeken is, het dit nie verklaar nie.
Die VF Plus sal aanhou druk toepas dat die munisipaliteit ‘n beleid oor voorsieningskettingbestuur moet instel om effektiewe verkrygingsbestuur te verseker en dat goedere en dienste slegs volgens gemagtigde prosesse verkry moet word.
Die elektrisiteitsverliese kan toegeskryf word aan die kultuur van nie-betaling wat deur die ANC gevestig is, onwettige kragverbindings en die swak instandhouding van kraginfrastruktuur.
Die VF Plus dring ook al ‘n geruime tyd daarop aan dat leefstyloudits op alle amptenare van die munisipaliteit uitgevoer word om korrupsie uit te roei.
Die enigste manier om finansiële stabiliteit en effektiewe dienslewering in Polokwane te weeg te bring, is om van die ANC-raad te vervang met ‘n bevoegde en verantwoordelike munisipale raad wat alle inwoners se belange op die hart dra.
Inwoners van Polokwane het op 27 Oktober die geleentheid om saam met die VF Plus op te staan, saam te staan en ‘n sterk boodskap te stuur dat die verval nie langer geduld sal word nie.
Navrae: 076 538 9520