Die Phokwane-plaaslike munisipaliteit (Hartswater, Jan Kempdorp, Pampierstat) het op 30 Junie 2021 sy jaarlikse begroting goedgekeur. Dit volg nadat die gemeenskap tydens ‘n protesoptog ‘n griefskrif met verskeie eise aan die burgermeester oorhandig het.
Een van die griewe handel oor die buitensporige verhoging in belastings en tariewe. Die konsepbegroting het tariefverhogings van 10% en 7% ten opsigte van tariewe en eiendomsbelasting onderskeidelik voorgestel.
Die raad het die verhoging in tariewe en eiendomsbelasting van 6% goedgekeur. Elektrisiteitstariewe, daarenteen, is drasties met 14,59% verhoog. Die billike verhoging in eiendomsbelasting word dus deur 'n buitensporige verhoging in kragtariewe geneutraliseer. Dit kan as 'n tegniek van misleiding beskou word.
Die VF Plus het beswaar teen die begroting aangeteken. Die munisipale raad het geen respek vir die wetlike prosesse wat gevolg moet word met betrekking tot die goedkeuring van ‘n begroting nie.
Enige verhoging in tariewe moet aan ‘n openbare deelnameproses onderwerp word, veral wanneer so ‘n verhoging nie tydens die aanvanklike proses aan die belastingbetalers voorgelê is nie.
In hierdie stadium is daar nog geen terugvoer aan die gemeenskap gegee ten opsigte van die griefskrif en eise wat oorhandig is nie. Die burgemeester het met die oorhandiging van die griefskrif in die teenwoordigheid van die media onderneem om binne veertien dae terugvoer te gee.
Dit is duidelik dat hierdie ANC-beheerde munisipaliteit geen integriteit het nie. Ernstige griewe van die belastingbetalers val op dowe ore.
Die tyd het aangebreek dat die ANC se mag in plaaslike regerings gebreek word. Tot dan gaan gemeenskappe aanhou ly onder die ANC se onvermoë om funksionele en volhoubare plaaslike regerings daar te stel wat basiese dienste kan lewer.
Die VF Plus in Phokwane doen ‘n beroep op die kiesers om met die komende plaaslike verkiesing op te staan en saam met die VF Plus seker te maak dat die ANC vervang word met ‘n plaaslike regering wat na sy inwoners omsien.
Kiesers moet seker maak dat hul besonderhede op die kiesersrol reg is. Staan saam en gaan stem op 27 Oktober vir ‘n beter plaaslike bestel.
Navrae: 072 938 8588