Die tien luukse voertuie wat die Vrystaatse premier, Maqueen Letsoha Mathae, vir tradisionele leiers in die provinsie aangekoop het, is ʼn klap in die gesig van Vrystaters wat gebuk gaan onder swak dienslewering.
Die VF Plus sal in die Vrystaatse wetgewer in vrae aan Mathae daarop aandring dat sy aandui hoeveel die voertuie gekos het en of daarvoor begroot is.
Die Vrystaat se finansies is reeds onder druk. Die Vrystaatse openbare rekeningekomitee het Donderdag by die provinsiale tesourie gehoor die departemente van onderwys en gesondheid het in die eerste kwartaal reeds oorbestee aan salarisse vir mediese personeel en onderwysers.
Dit is algemeen bekend dat provinsies en veral die Vrystaat nie sal kan voortgaan om onderwysposte te behou nie weens ʼn nasionale tekort daarvoor.
Ten spyte van onlangse kostebesparingsmaatreëls van die provinsiale tesourie, ag die premier dit belangriker om voertuie vir tradisionele leiers aan te koop.
Intussen sukkel die Vrystaatse wetgewer om fondse by die provinsiale tesourie te kry om sy oorsigrol doeltreffend te kan uitvoer.
Dié voertuie kan as niks anders geag word nie as politieke omkopery om met staatsfondse ʼn sukkelende ANC in landelike gebiede te red.