Die VF Plus het tydens ‘n sitting van die Nelson Mandelabaai-metroraad (NMBM) se strategiese beplanningskomitee gevra dat die burgemeester, Retief Odendaal, dringend aandag moet skenk aan die metro se rampbestuursplanne om brande, soos wat tans woed, beter die hoof te kan bied.
Die NMBM het die afgelope dae gebuk gegaan onder beproewende warm en winderige weersomstandighede wat verwoestende brande aangejaag het.
Daar moet veral gelet word op die tekort aan water asook die tekort aan brandweerwaens en personeel wat op brande kan reageer.
Die VF Plus, wat deel is van die koalisieregering in die NMBM, sal graag wil sien dat vakante poste by die onderskeie brandweerstasies so spoedig moontlik met goed opgeleide personeel gevul word.
Tans is die meeste brandweerstasies onderbeman en is daar soms net vyf brandbestryders per skof aan diens soos in die geval by die Sidwell-brandweerstasie.
Die VF Plus doen ook ‘n dringende beroep op die inwoners van die NMBM om versigtig te wees om oop vure sonder toesig te laat, nie sigaretstompies by motorruite uit te gooi nie en om aan te sluit by plaaslike gemeenskappolisiëringforums om brande onmiddellik aan te meld.
Die VF Plus bedank al die brandweerpersoneel, vrywilligers en Gift of the Givers wat alles in hul vermoë doen om die brande in bedwang te bring.