Met die hulp van VF Plus is goedkeuring verleen dat die ingang van die Prinshofskool vir gesiggestremde leerders in sentraal Pretoria na ‘n veiliger gebied geskuif word.
Die ingang wat die skool gebruik sedert sy stigting in 1963 is in Lewisstraat, maar deur die jare het dit onveilig vir leerders geraak om van die ingang gebruik te maak.
Leerders is al selfs voor die ingang aangerand en beroof.
Die ingang is ook ‘n broeiplek vir misdadige aktiwiteite met ‘n onwettige staanplek vir minibustaxi’s nie ver daarvandaan nie.
Die verskuiwing van die ingang vanaf Lewisstraat na Soutpansbergweg is gedurende die jongste raadsvergadering van die Tshwane-metroraad goedgekeur.
Die Prinshofskool vir gesiggestremdes is ‘n unieke onderwysinstelling en die voortbestaan en veiligheid van die skool se leerders, onderwyser en personeellede is uiters belangrik.
Prinshofskool huisves leerders van regoor die land en selfs die buiteland.
Die VF Plus, as deel van die koalisieregering van die Tshwane-metroraad, stel die inwoners van die metro se belange en veiligheid eerste.