Die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) is ʼn ANC-geskepte parasiet wat eindelik ook die land se private gesondheidsektor gaan vernietig.
Gesondheidsorg in Suid-Afrika sal onder volle ANC-beheer in duie stort soos alles in ANC-beheer totdat daar, soos met die huidige openbare gesondheidsektor, niks van oorbly nie.
Die waarheid van die NGV is dat dit ʼn politieke foefie van die ANC is om stemme te kry vir die 2024-verkiesing. Dit beloof alles vir almal, maar eindelik gaan daar niks vir niemand oorbly nie.
Wat gebeur het met die land se krag, water en alle ander dienste onder die ANC, moet as ‘n harde en tydige waarskuwing dien oor die pad wat gesondheidsorg gaan loop.
Die VF Plus sal hierdie wetgewing op elke manier moontlik teenstaan, en doen ʼn beroep op elke regdenkende Suid-Afrikaner om die party hierin te steun.
Dit is teleurstellend dat pres. Cyril Ramaphosa vasberade is om die NGV ten alle koste op die wetboek te kry, al roep die bewyse vanuit staatshospitale oor grootskaalse verval ten hemele.
Dit is daarom ook duidelik dat die president hom opsetlik siende blind en horende doof hou oor die realiteit van die situasie.
Benewens die onuitvoerbare belofte van gratis gesondheidsorg aan elke Suid-Afrikaner in ruil vir stemme, is daar natuurlik ook die vooruitsig van die gewaande pot goud aan die einde van die NGV-reënboog vir die ANC.
Veral kommerwekkend, is dat daar in die wetsontwerp, soos met die Covid-19-ramptoestand, geen voorsiening gemaak word vir enige parlementêre oorsig of toesig oor die NGV-fonds nie.
Alle magte oor die fonds is in die hande van ʼn minister en die kabinet. Die fonds (dus die ANC), ondersoek self klagtes en hanteer self die appèlprosesse oor probleme. Dit is die vergryping na absolute mag en eintlik ʼn blote nasionaliseringsprojek.
Die gesegde van Lord Acton lui dat mag korrupteer en volmag ten volle korrupteer. Die VF Plus kan daarom vandag reeds die waarborg gee dat die fonds tot op die been gestroop sal word net soos met die Covid-19-noodfonds gebeur het.
Die VF Plus sê dat ʼn gesondheidstelsel ontwerp en bestuur moet word deur kundiges op elke gebied wat betrokke is, in besonder mediese kundiges, en nie deur ANC-politici of amptenare nie. ‘n Stelsel met die doel om nie die een ter wille van die ander te vernietig nie, maar ‘n werkbare stelsel wat ontwerp word deur mediese beroepslui wat beide die openbare en private sektor kan insluit.
Die VF Plus meen ook dat die NGV nie ʼn grondwetlike toets sal slaag nie en dit is ʼn uitgemaakte saak dat verskeie rolspelers dit in die Grondwethof sal toets.
Uiteindelik sou die gesprek en debat oor ʼn NGV in die eerste plek nie nodig gewees het indien die ANC nie toegelaat het dat die openbare gesondheidstelsel in duie gestort het nie.


