Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

ANC verlig dat Guptas se uitlewering misluk het

Daar is baie in die ANC wat ongetwyfeld ʼn sug van verligting geslaak het toe die aansoek om die Guptas aan Suid-Afrika te laat uitlewer misluk het.

ʼn Hofsaak in Suid-Afrika waarby die Guptas betrokke sou wees, sou ongetwyfeld ʼn miernes van korrupsie oopkrap waarby vele ANC-hooggeplaastes betrek sal word.

Hierdie mislukte aansoek het daarom in alle waarskynlikheid meer te make met opsetlike onbevoegdheid as ware onbevoegdheid, alhoewel dit onder ʼn ANC-regering altyd ʼn rol speel.

Wat in nege jaar onder pres. Jacob Zuma rondom staatskaping gebeur het, kan nie net op sy brood gesmeer word nie. Dit het gebeur op die wagbeurt van ʼn volle ANC-kabinet en -parlementêre koukus.

Die huidige staatspresident, Cyril Ramaphosa, was die adjunkpresident en baie van die huidige ministers en ANC-LP’s was in die kabinet. Hulle kan nie nou hul hande in onskuld was nie.

Hulle het staatskaping toegelaat en doen steeds niks daaraan nie.

Dit is tewens ʼn deurlopende kenmerk van die ANC-regering – daar is geen gevolge vir oortredings nie. Dit word gesien op elke vlak van regering.

Nogtans gee die ANC hoog op dat hy voor staan in die stryd teen korrupsie, al is die teendeel aan die orde van die dag.

Ná vele ondersoeke en regterlike kommissies se aanbevelings, is daar steeds geen gevolge nie. Hierdie tradisie en kultuur van straffeloosheid in die ANC kom sedert 1994.

Intussen is korrupsie besig om Suid-Afrika se potensiaal te steel. Mense kry swaar. Hulle is werkloos en honger. Geld wat die land moet opbou, beland in kaders se sakke. Geld vir infrastruktuur en paaie word gesteel.

Staatskaping is steeds vaardig in Suid-Afrika. Dit is ʼn simptoom van ʼn ANC-geskepte siekte waar selfverryking en straffeloosheid hoogty vier.

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.