Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

’n Skouspelagtige nuwe begin in verhoudinge tussen Suid-Afrika en die VSA is moontlik

Drie Afrikaners is tans in Washington en glo daar is ’n unieke geleentheid vir ’n skouspelagtige nuwe begin in verhoudinge tussen Suid-Afrika en die VSA. ’n Werksdokument hieroor word hiernaas volledig geplaas:

Kom ons Maak Kritieke Minerale die Middelpunt van ’n Nuwe VSA-Suid-Afrika-Vennootskapsooreenkoms
Stel voorsieningskettingsekuriteit eerste, en laat energie, finansies, sekuriteitstegnologie, landbou, gesondheidsorg, kommunikasie en KI as die ondersteunende pilare dien.

As Afrikaners verantwoordelik vir ’n tegnologie-beleggingsportefeulje van miljoene dollar in die Verenigde State, asook ’n gerespekteerde Afrikaner politieke leier, glo ons dat ons unieke situasie waardevolle insig bied in die ontwikkelende dinamika tussen die Verenigde State en Suid-Afrika.

Oor die afgelope twee maande het dr. Alistair Ruiters in opdrag van president Ramaphosa ’n sleutelrol gespeel om Suid-Afrika te posisioneer om ’n mylpaal-handelsooreenkoms aan te gaan. Hierdie vordering bied ’n seldsame geleentheid om bilaterale betrekkinge te herstel – nie net om ’n handelsooreenkoms te sluit nie, maar om voort te bou op die momentum deur ’n gewaagde en nuutdenkende beleggingsooreenkoms na te streef wat die strategiese ambisies van albei lande weerspieël.

So ’n ooreenkoms kan dien as die hoeksteen van ’n nuwe vennootskap tussen die Trump-administrasie en Pretoria, geanker in wedersydse belange, gedeelde demokratiese waardes en langtermyn-strategiese samewerking.

Toe president Cyril Ramaphosa president Trump op 21 Mei 2025 ontmoet het, het president Trump met slegs sewe ander staatshoofde ontmoetings gehad. Die Suid-Afrikaanse president het ’n hele oggend en werksmiddagete saam met president Trump deurgebring, wat sekerlik vir Suid-Afrika ’n voorsprong in globale handelsonderhandelinge sou gee.

Aanvanklik het president Trump ’n persoonlike toon aangeslaan en na sy langdurige vriendskappe met Suid-Afrikaners, insluitend drie Afrikaners wat daar teenwoordig was, verwys. Hy het dit duidelik gestel: “Ons kan help, en ons wil help.” Ten spyte van ernstige kommer oor landelike veiligheid in Suid-Afrika en plaasmoorde, het hy senior amptenare onmiddellik opdrag gegee om die handelsonderhandelinge te lei. Die Withuis het sonder om te skroom sy vereistes vir ’n ooreenkoms – wat tarief- en nie-tariefversperrings dek – skriftelik aan Suid-Afrikaanse amptenare en direk aan besoekende afvaardigings, soos die Afrikaner-afvaardiging onder leiding van dr. Corné Mulder, gekommunikeer.

Daarna het die gesprek vinnig verder as onmiddellike handelsbekommernisse uitgebrei. Die Withuis het ’n seldsame geleentheid beklemtoon om herstel op ’n skouspelagtige manier te bewerkstellig, een wat die ekonomiese verhouding tussen die twee lande in die strategiese werklikheid van die hede veranker: kritieke minerale.

Ons is van mening dat Suid-Afrika ’n geleentheid het om die Verenigde State te ondersteun in die bou van veerkragtige voorsieningskettings vir die tegnologieë wat die volgende 30 jaar gaan definieer – halfgeleiers, batterye, lugvaart en verdediging.

Die VSA benodig betroubare vennote wat kritieke minerale sowel as die verwerking daarvan op grootskaal kan lewer. As een van die mineraalrykste lande met een van die mees geïndustrialiseerde ekonomieë in Afrika, het Suid-Afrika die potensiaal om daardie vennoot te wees.

Herbou Vertroue

Ons is van mening dat Suid-Afrika aspekte van sy Amerikaanse beleid moet herkalibreer. Die verhouding met Washington kan herstel word deur Pretoria se standpunte oor Israel en Taiwan konstruktief te hersien. Plaaslik sal die prioritisering van deursigtige ondersoeke na plaasmoorde ’n verbintenis tot die oppergesag van die reg en menseregte demonstreer. Om beleggings te lok, kan Suid-Afrika Amerikaanse beleggers vrystel van verpligte Swart Ekonomiese Bemagtigingsvereistes (SEB), en eerder die nakoming van ʼn vrywillige beleggingskode aanmoedig.

Deur dit te kombineer met ’n VSA-Suid-Afrikaanse-Sekuriteitstegnologievennootskap soos deur Johann Rupert in die Withuis-vergadering in Meimaand bepleit, sal myne, raffinaderye, hawens en logistiek voorsien word van die beste Amerikaanse platforms vir toesig, data-analise en wetstoepassingsondersteuning.

Die samewerkingsooreenkoms moet ook uitgebrei word om die volgende probleme aan te pak: globale dwelmsindikate, wat gemeenskappe in beide lande verwoes, sowel as gesamentlike pogings om smokkelary, onwettige finansiering en grenskorrupsie hok te slaan. Gedeelde digitale platforms vir vragmonitering kan handelskorridors veiliger maak, risiko-premies verlaag en nuwe beleggings ontsluit.

Kritieke Minerale as die middelpunt van ’n skouspelagtige nuwe ooreenkoms

Die hartklop van so ’n nuwe ooreenkoms sal kritieke minerale wees. Suid-Afrika kan strategiese toegang tot eksplorasie, mynbou en veral raffinering van platinumgroepmetale (PGM’s), mangaan, vanadium, seldsame aardmetale en titanium ontsluit.

Wat die VSA na die tafel toe kan bring is langtermyn- aankoopverbintenisse, geteikende reserwebouprogramme by die departemente van verdediging en energie, en finansiering vir verwerkingskapasiteit wat verder strek as belangrike hulpbronne tot werklike deursette.

’n Johannesburg-gebaseerde kritieke minerale-beurssentrum, gekoppel aan Amerikaanse kommoditeitsmarkte, kan pryse verskans en risiko’s verminder. Die strategiese voordeel sal onmiddellik wees: Die VSA verseker betroubare voorrade vir elektriese voertuie, vliegtuie en gevorderde vervaardiging, terwyl Suid-Afrika homself posisioneer as ’n globale verwerkings- en handelsentrum – nie net ’n mynput aan die een punt van ʼn ander land se waardeketting nie.

Die Veilige Saldanha-voorspoedkorridor


Ons stel voor dat die fokuspunt van hierdie ooreenkoms rakende kritiese minerale ’n veilige voorspoedkorridor, met Saldanhabaai as middelpunt, moet wees. Swart Ekonomiese bemagtiging (SEB) sal nie daar geld nie. Met direkte toegang tot die Atlantiese Oseaan en die moontlikheid om verbind te word met die Lobito-korridor, wat Zambië met Angola verbind, is Saldanha in die ideale posisie om ’n strategiese sentrum vir trans-Atlantiese handel en mineraalverwerking te word. Die konstruksie van ’n vloeibare aardgas-terminaal sal die invoer van vloeibare aardgas vanaf die VSA moontlik maak, wat Suid-Afrika se energiesekerheid sal versterk. Tesame met krag vanaf Koeberg en die voorgestelde konstruksie van ’n Klein Modulêre Reaktor kan die streek energie-intensiewe nywerhede soos datasentrums binne die bestaande Spesiale Ekonomiese Sone ondersteun. Hierdie geïntegreerde infrastruktuur kan van Saldanha ’n VSA-geleide beleggingspoort na die res van Suider-Afrika maak.

Vyf Ondersteunende Pilare

Om hierdie strategie met kritiese minerale as middelpunt te bewerkstellig, word vyf ondersteunende pilare voorgestel om beleggings aan te moedig:

  1. Die invoer van aardgas vanaf die VSA sowel as die herfinansiering van steenkool deur middel van privaat ekwiteite kan betroubare kraglewering aan smelters en raffinaderye verseker. Energiestabiliteit lei direk na werkskepping terwyl dit aantreklike opbrengste vir Amerikaanse beleggers bied.
  2. Afrika is meer as gereed om deel te neem aan die opbloei van kripto-geldeenhede. Suid-Afrika se gesofistikeerde en gevestigde finansiëledienstesektor stel die land in staat om baanbrekerswerk te doen met mineraalgesteunde digitale bates. Getokeniseerde opneem van kontrakte en naspeurbaarheidsinstrumente kan finansieringswrywing verminder terwyl dit reguleerders en vervaardigers die deursigtigheid gee wat hulle vereis.
  3. ’n Onderneming deur Suid-Afrika se Pensioenbeleggingskorporasie (PIC) om $20 miljard in Amerikaanse landbou te belê, kan ’n tweerigting-vaardigheidspyplyn vir Amerikaanse en Suid-Afrikaanse boere skep wat op KI en outomatisering fokus. Voedselsekuriteit en landelike ontwikkeling sal sosiale stabiliteit in afgeleë gemeenskappe verhoog.
  4. Amerikaanse firmas soos Oracle en Starlink kan wolkinfrastruktuur, telemedisyne en breëbanddienste aan landelike mynbougemeenskappe verskaf. Bekostigbare gesondheidsorg en konnektiwiteit bewerkstellig produktiwiteit en is onontbeerlik vir armoedeverligting.
  5. ’n VSA-Afrika-Midde-Oosterse sentrum vir mynboutegnologie-voorsieningskettingnaspeuring, en KI-gedrewe monitering, sal beleggings lok van Amerikaanse private-ekwiteitsfirmas en soewereine welvaartfondse van die Golf. Langtermyn- opneemooreenkomste kan gesluit word deur herstelkoerse te optimaliseer, staantyd te verminder en die lewering van verifieerbare data.

Beleggingsopbrengste vir beide lande

’n Ooreenkoms met minerale as hooffokus kan skouspelagtige opbrengste lewer. Vir Suid-Afrika kan dit die BBP met $40 miljard verhoog en ongeveer 500 000 werksgeleenthede in die mynbou-, verwerkings-, energie-, logistieke en dienstesektore skep. Die vaste beleggingskoers sal van 15% tot 25% styg, wat groei van 5% per jaar moontlik sal maak en werkloosheid mettertyd kan halveer. So ’n transformasie sal stabiliteit aan Suid-Afrika verleen en ‘n werklike demokrasie verseker.

Vir die VSA kan direkte winste uit minerale, aardgasuitvoere, tegnologie-aanwending en landboubeleggings $75 miljard oorskry. Boonop is daar die strategiese dividend van voorsieningskettingveerkragtigheid en die geopolitieke voordeel van betroubare verkryging. In ’n wêreld vol gekonsentreerde risiko’s is veerkragtigheid op sigself ’n bate in ’n klas van sy eie.

Sodanige uitkomste sal die verlaging van Suid-Afrika se algemene tariefkoers tot 10% regverdig en sy voorregte onder AGOA behou.

Waarom dit nou moet gebeur

Die VSA is ywerig om industriële kapasiteit te herbou sonder om strategiese kwesbaarhede in te voer. Suid-Afrika benodig beleggings, betroubare krag en uitgebreide globale marktoegang om sy wêreldklas-geologie in middelklas-voorspoed te omskep.

’n Mineraalgesentreerde ooreenkoms los albei probleme op. Dit kanaliseer kapitaal na belangrike verwerkingsinfrastruktuur, wat beskerm word deur moderne sekuriteitstegnologie, gefinansier met innoverende middele, gedryf deur pragmatiese energie en beman deur geskoolde werkers wat deur gesondheidsorg en konnektiwiteit ondersteun word.

’n Oproep tot Aksie

Ons glo dat die regering van nasionale eenheid (RNE) en die Suid-Afrikaanse privaatsektor voor ’n unieke geleentheid staan. Met die Withuis se deur oop vir ons is dit nou die tyd om ʼn waterskeidingsooreenkoms met die Trump-administrasie te sluit, een wat voorspoed vir Suid-Afrikaners en Amerikaners, en vir toekomstige geslagte, sal verseker.

Na ons besoek en gesprekke in Washington DC hierdie week is ons oortuig dat die Trump-administrasie hierdie voorstelle as ’n unieke herstel van VSA – SA verhoudinge sal steun.

CORNÉ MULDER
ANDRE PIENAAR
CHRIS OPPERMAN

Washington DC

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.