Die Mogale City-plaaslike munisipaliteit se skielike ingryping om die brand by die Luipaardsvlei-stortingsterrein in Krugersdorp gedeeltelik te blus, moes vroeër gebeur het.
Dit is die vyfde keer sedert die begin van die jaar dat ʼn brand by dié terrein uitbreek.
Die VF Plus en inwoners het sedert verlede week geweldige druk op die munisipaliteit geplaas om die brand onder beheer te bring. Inwoners het onder meer gekla van hooikoors, brandende oë, asma-aanvalle en meer.
Die munisipaliteit het toerusting gehuur om die grootste gedeelte van die brand te blus. Dit brand egter steeds in die deel waar herwinning plaasvind en veroorsaak ʼn brandreuk en vorm ʼn rookwolk oor die dorp.
Die VF Plus het die brande op die stortingsterrein reeds by die menseregtekommissie (MRK) aangemeld en gevra vir ʼn ondersoek na die haglike toestand van die terrein.
Die party se raadslede het die stortingsterrein Dinsdag besoek en sal gereeld oorsigbesoeke bring om toe te sien dat die munisipaliteit vordering maak met die blus van die brand.
Die party het die munisipaliteit voorts gemaan om voorkomingsplanne in plek te stel om verdere brande te voorkom en te sorg dat die terrein aan die voorgeskryfde standaarde voldoen.
Die VF Plus sal voortgaan om druk op Mogale City te plaas om te sorg dat inwoners in ʼn omgewing woon en werk wat nie skadelik vir gesondheid is nie.


