Die Mensregtekommisie (MRK) het Suid-Afrika in die steek gelaat met sy bevinding dat die leier van die EFF, Julius Malema, homself nie aan haatspraak skuldig gemaak het nie.
Die MRK het verlede week bevind dat Malema se uitlating in November 2016 buite ‘n hof in Newcastle dat; “ons nie vra vir die slagting van witmense nie, ten minste nie nou al nie” nie haatspraak was nie.
Malema het toe verskyn op klagte dat hy grondbesettings aangemoedig het.
"Dit maak ‘n bespotting van die viering van Menseregtedag in Suid-Afrika, veral deur die wit minderheid in die land," sê Tammy Wessels, VF Plus-Jeugleier.
Wessels sê Suid-Afrikaners wat nie met die MRK saamstem nie, kan saam met die VF Plus terugslaan deur te verklaar dat Malema se uitspraak ‘n skending van hul en ander se menseregte is.
‘n Petisieblad in dié verband is deur die VF Plus-Jeug geloods om Suid-Afrikaners ook ‘n stem te gee teen Malema se uitspraak. Die petisie kan in moontlike verdere stappe teen die EFF-leier en MRK gebruik word.
"Ideologiese en populistiese uitsprake deur politieke leiers is nie net woorde nie. Dit het die vermoë om Suid-Afrika op grond van ras en velkeur te verdeel.
"Die MRK het as nasionale instituut die mandaat en verantwoordelikheid om alle Suid-Afrikaners se respek, nakoming en beskerming van menseregte sonder vrees of voordeel te verseker.
"Die MRK het ‘n verantwoordelikheid om veral politieke uitsprake op meer as tegniese meriete te beskou. Malema se woorde laat volgens die VF Plus geen twyfel nie dat hy die slagting van witmense aanmoedig.
"Die vraag is net wanneer.
"Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie beskerm hoofsaaklik en eerstens sy burgers – nie politieke leiers wat populistiese uitsprake maak nie. Aanhitsing tot geweld, hetsy nou of later, bly ‘n bedreiging vir die vrede en nasiebou in Suid-Afrika.
"Die VF Plus-Jeug moedig op Menseregtedag Suid-Afrikaners aan om saam terug te slaan teen die bevinding van die MRK asook politieke leiers wat deur rasgedrewe uitsprake Suid-Afrika se toekoms in die gedrang bring deur die elektroniese petisie te teken.
"Die VF Plus-Jeug wil bou aan ‘n beter toekoms vir Suid-Afrika en sal aanhou terugslaan teen enige vorm van diskriminasie en haatspraak wat moontlike geweld propageer," sê Wessels.