Vryheidsfront Plus
Search
Vryheidsfront Plus

Onder die ANC is daar nie sprake van menseregte nie

"Die ANC minag die voorskrifte in Suid-Afrika se Grondwet wat menseregte waarborg, en daarom moet kiesers op 8 Mei hul minagting vir die ANC by die stembus wys," sê Wouter Wessels, VF Plus LP.

Wessels het tydens 'n parlementêre debat Woensdag oor versnelde sosio-ekonomiese transformasie en menseregtegesê daar is talle voorbeelde hoe die ANC die Grondwet minag.

"Inwoners van onder andere Thabong, Welkom, Modimolle, Brentpark, Kroonstad, Sannieshof, Delareyville, Tswaing, Ditsobotla en mense wat naby die Vaal- en aangrensende riviere woon, het nie die reg tot ‘n omgewing wat onskadelik is vir hul gesondheid nie en waar besoedeling en ekologiese agteruitgang verhinder word soos in die Grondwet gewaarborg word nie.

"Die Grondwet bepaal dat elke mens in die land toegang tot water moet hê. Hierdie reg is nie vir die mense van onder andere Masilonyana, Mafube en Gariep beskore nie.

"Artikel 9 van die Grondwet waarborg die reg op gelykheid. Die ANC het egter diskriminerende wetgewing geskep wat gelyke geleenthede vir almal ondermyn deur rasseklassifikasie en kwotas.

"Artikel 31 waarborg die reg op eie kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe. Diegene wat hierna streef word egter gebrandmerk as rassisties. Universiteite verengels en Afrikaanssprekendes se taalregte word vertrap.

"Menswaardigheid word gewaarborg in Artikel 10, maar nie volgens die ANC nie. Onder die ANC word pasiënte in staatshospitale eerder van hul menswaardigheid gestroop en hulle word onmenslik behandel. Die ANC se idee van menswaardigheid is waar bejaardes en kinders daagliks tussen rou riool moet leef.

"Die ANC laat toe dat geld gesteel word en vermors miljarde rande op luukshede en veiligheid vir ministers terwyl kinderhuise se staatsubsidie so laag as R17 per kind per dag is. Dit is ‘n skande. Die ANC minag mense en moet met dieselfde minagting verwerp word.

"Suid-Afrika se Grondwet waarborg die reg om eiendom te besit. Maar ook hier is die ANC bereid om nog ‘n mensereg op die altaar te plaas in ‘n magsbehepte poging om kiesers se guns te wen vir die komende verkiesing.

"Die ANC-regering onderdruk die mense van die land en slaan geen ag op menseregte nie. Sy pogings tot nasiebou het misluk. Laat ons leer uit die verlede, leef in die hede en fokus op die toekoms. Die stryd om menseregte en menswaardigheid vir alle Suid-Afrikaners sal voortleef ná die ANC," het Wessels gesê.

 

DEEL DIT:

jongste artikels

Wil jy voortgaan in Afrikaans of Engels?

Kies hieronder.

Would you like to continue in English or Afrikaans?

Choose below.